Update
OUDTSHOORN NUUS - Die weermagdokter wat in 2016 deur pasiënte aangekla is van verkragting en seksuele aanranding, is Maandag skuldig bevind.
Danzil King (36), 'n dokter van die Paarl wat in 2016 verbonde was aan die Infanterieskool op Oudtshoorn is in die Oudtshoorn-streekhof aan verkragting en twee aanklagte van seksuele aanranding skuldig bevind.
"Hierdie is nie die gewone geval van verkragting en seksuele aanranding nie. Dit verskil van die daaglikse gevalle omdat ons te doen het met 'n mediese dokter en voorvalle wat in sy spreekkamer plaasgevind het," het streeklanddros Daniel Boks met die aanvang van sy uitspraak gesê.
Die landdros het die getuienis van die beskuldigde as vals en leuenagtig verwerp en bevind dat die klaagsters, twee vroulike rekrute, nie enige motiewe gehad het om hom valslik te beskuldig nie.
"Die twee rekrute het mekaar nie geken nie en mekaar eers tydens 'n besoek aan 'n maatskaplike werker ontmoet," het die landdros gesê. "Die beskuldigde het sy weergawe aangepas ná die getuienis van dr. Charlston Dreyer, die dokter wat een van die vroue na die voorvalle ondersoek het, en dit ingekleur het met sy mediese kennis."
Die voorvalle het in April 2016 in die siekeboeg van die Infanterieskool plaasgevind. In die eerste voorval het 'n 21-jarige rekruut die siekeboeg vir 'n oorprobleem besoek. King het die vrou egter gevra om uit te trek en self haar broekie uitgetrek, waarna hy haar seksueel misbruik het. Hy het ook die spreekkamer se deur gesluit. Hy het haar gevra wat sy bereid was om hom te gee indien hy haar op siekverlof sou plaas.
In die twee ander gevalle het 'n tweede rekruut, ook 21, die dokter vir 'n liesbesering besoek en is sy ook gevra om al haar klere uit te trek. Die siekeboeg se deur was weer gesluit en ten spyte van drie keer se kloppery, is dit nie oopgemaak nie. Die dokter het die rekruut se geslagsdele betas. Toe sy tien dae later vir 'n opvolgbesoek gegaan het, het sy gekeer toe hy haar weer betas het en probeer het om haar te soen.
"Daar is geen redes om die slagoffers se getuienisse te verwerp nie terwyl die beskuldigde se weergawe nie versoenbaar is met die feite van die saak nie," het die landdros gesê en bygevoeg dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
King se borgtog van R5 000 is op versoek van sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, verleng. Die verdediging het ook aangedui dat daar op 28 Junie 'n aansoek om teen die uitspraak te appelleer, gebring sal word. Nadia le Roux was die aanklaer in die saak.
Lees vorige artikels:
- Weermagdokter se verhoor uitgestel tot Julie
- Saak teen weermagdokter vir uitspraak uitgestel
- Weermagdokter se aansoek om ontslag afgekeur
- Weermagdokter weer in Junie in hof
- Weermagdokter weer vlugtig in hof
- Weermagdokter se saak uitgestel
- Weermagdokter weer vlugtig in hof
- Weermagdokter rig vertoë tot DOV
- Dokter borgtog van R5 000 toegestaan
- Dokter in hof vir verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'