Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Dokter van die Paarl wat in 2016 vir sy gemeenskapsjaar by die Infanterieskool op Oudtshoorn was, en aan verkragting en twee klagtes van seksuele aanranding skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-streekhof 14 jaar gevangenisstraf opgelê.
Streeklanddros Daniël Boks het met vonnisoplegging van die 37-jarige Danzil King gesê dat hy sy vertrouensposisie as mediese dokter misbruik het en hom aan ernstige misdrywe skuldig gemaak het.
Sy getuienis is as vals en leuenagtig verwerp terwyl sy slagoffers, twee 21-jarige vroulike rekrute, nie enige motiewe gehad het om hom valslik te beskuldig nie. Hulle het mekaar nie eens geken nie.
Die voorvalle het in April 2016 in die siekeboeg van die Infanterieskool plaasgevind toe die twee vroue die beskuldigde vir onderskeidelik 'n liesbesering en oorinfeksie besoek het. Hy het hulle in albei gevalle gevra om te ontklee om sy ondersoeke te doen.
"Hierdie is nie die gewone geval van verkragting wat daagliks in hierdie hof aangehoor word nie, maar een van 'n mediese dokter en voorvalle wat in sy spreekkamer plaasgevind het," het die landdros gesê.
Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het versoek dat die minimum vonnis van tien jaar vir verkragting opgelê word omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie.
"Die beskuldigde het op 'n slinkse manier te werke gegaan en die twee klaagsters het net soveel regte as die beskuldigde. Die beskuldigde het sy vertrouensposisie misbruik. Dit is verswarend en daarom sal direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis wees. Verkragting bly verkragting en die beskuldigde kan nie anders behandel word omdat hy 'n dokter is nie. Dit sal nie die regte boodskap uitstuur nie. Hy ontken steeds skuld, toon geen berou nie en die moontlikheid bestaan dat hy dit weer sal doen," het sy gesê.
Volgens haar is beide vroue wat nog jonk is nou bang vir mans.
King se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het aangevoer dat King net sy werk gedoen het. Hy het ter versagting van vonnis aan die hof voorgehou dat dit tans nie goed gaan met sy huwelik nie en dat 'n egskeiding hulle in die gesig staar. Hy en sy vrou is reeds van bed en tafel geskei.
Sy kontrak by die Infanterieskool, waar hy R57 000 per maand verdien het, is beëindig en is hy tans afhanklik van sy ouers se pensioene.
Metembo het die hof gevra om te kyk na 'n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig. Volgens hom is rehabilitasie binne die gevangenis 'n mite as daar gekyk word na herhaalde hofverskynings van gevonnisdes.
"Die beskuldigde het reeds alles verloor en is swaar gestraf. Die unieke feite voor die hof verdien 'n unieke vonnis," het Metembo gesê.
Volgens die landdros is die hof nie gebonde aan die aanbevelings in 'n korrektiewe verslag nie. Hy het in ag geneem dat families dikwels die swaarste straf moet verduur en dat 'n effek op hulle het.
"Die hof kry die familie jammer, maar hoe nou gemaak? Die hof kan nie skroom om u anders te behandel nie."
Die hof het, alles in ag genome, wel afgewyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van tien jaar vir verkragting en King tot agt jaar gevonnis asook drie jaar vir elke klagte van seksuele aanranding wat samelopend met die vonnis vir verkragting uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van agt jaar.
Metembo het teen die skuldigbevinding en vonnis van sy kliënt appelleer, maar dit is deur die landdros van die hand gewys.
Lees vorige artikels:
- Weermagdokter skuldig aan verkragting
- Weermagdokter se verhoor uitgestel tot Julie
- Saak teen weermagdokter vir uitspraak uitgestel
- Weermagdokter se aansoek om ontslag afgekeur
- Weermagdokter weer in Junie in hof
- Weermagdokter weer vlugtig in hof
- Weermagdokter se saak uitgestel
- Weermagdokter weer vlugtig in hof
- Weermagdokter rig vertoë tot DOV
- Dokter borgtog van R5 000 toegestaan
- Dokter in hof vir verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'