Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ‘n man van Oudtshoorn wat van onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla word, is Dinsdagoggend op versoek van die DOV in die Oudtshoorn-landdroshof vir verdere ondersoek uitgestel.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het die hof meegedeel dat sy ‘n skrywe van die direkteur van openbare vervolging (DOV) ontvang het waarin sy meegedeel word dat die polisie in die Oos-Kaap steeds besig is met die ondersoek.
Die 64-jarige Adriaan (Attie) Deyzel was die eienaar van Oos-Kaap Wapens en Ammunisie in Somerset-Wes en het na Adelaide verhuis sonder om die betrokke vuurwapenoffisier daarvan kennis te gee.
Daarna het hy na Oudtshoorn verhuis en is nie toegelaat om met al die vuurwapens en ammunisie te reis nie.
Van die 60 vuurwapens wat in die naam van Oos-Kaap Wapens en Ammunisie geregistreer was kan nie rekenskap van gegee word nie, terwyl 39 wat in Deyzel se besit gevind is het geen verbintenis met hom of sy besigheid het nie.
Die polisie is gevolglik besig om die eienaars te soek.
Die dossier is tans in die ondersoekspan se besit totdat die ondersoek voltooi is en gevolglik die versoek om uitstel vir minstens nog ‘n maand.
Deyzel se regsverteenwoordiger, Thelisha Piedt, het beswaar aangeteken teen die uitstel van die saak wat nou reeds lank sloer.
Volgens haar is die beskuldigde geregtig op ‘n spoedige verhoor en ‘n finale uitstel versoek. Borgtog van R10 000 is reeds in Mei vanjaar aan Deyzel toegestaan.
Landdros Roelf Konstabel het om verskoning gevra vir die verdere uitstel maar bygevoeg dat dit onvermydelik is.
Deyzel se borgtog is verleng en die saak tot 22 November uitgestel.
Lees vorige artikels hier:
- Nog moontlike klagtes in wapensaak
- Wapen-man weer in die hof
- Borgtog vir wapen-man
- Man gearresteer oor wapens
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'