OUDTSHOORN NUUS - Die erg ontbinde liggaam van Delia Visagie (82), wat op Maandag 5 Januarie as vermis aangemeld is, is Maandagoggend, 12 Januarie, omstreeks 07:00 in 'n oop veld langs naby Cango Wildlife gekry.
Adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Oudtshoorn-polisie na die toneel ontbied is. "'n Voorlopige ondersoek het bevestig dat dit die liggaam van 'n vrou is.
'n Nadoodse ondersoek sal later die week uitgevoer word om die oorsaak van dood te bepaal," het Spies gesê.
Visagie het aan Alzheimer se siekte gely, en haar kinders was bekommerd dat sy moontlik gedisoriënteerd was nadat sy haar woning in Condorstraat verlaat het.
'n Uitgebreide soektog is sedert haar verdwyning van stapel gestuur. Die Oudtshoorn-polisie, Attaqua-honde-eenheid, Noord-buurtwag, Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), sowel as plaaslike inwoners, het die noordelike woongebied en omliggende areas deursoek.
Die soektog is later tot in Dysselsdorp uitgebrei nadat daar aanvanklik vermoed is dat sy moontlik daarheen beweeg het.
Hoewel die familie laat weet het dat haar liggaam gevind is, het hulle besluit om geen verdere kommentaar te lewer. Hulle het ook versoek dat hul privaatheid gerespekteer word en het die publiek gevra om nie oor die omstandighede van haar dood te spekuleer nie.
Begrafnisreëlings is nog nie bekend-gemaak nie.
Leon Campher van OCAC het sy skok uitgespreek en om voorbidding vir Visagie se kinders, kleinkinders en familie gevra.
"Ons bedank elkeen vir die gebede en ondersteuning. Tydens ons gebeds-byeenkoms verlede week het ons die Hemelse Vader gevra om haar terug te bring, ongeag haar toestand.
"Vandag kan ons 'n mate van berusting vind, al sou ons dit graag anders wou hê," het hy gesê.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’