Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die elf verdagtes, ses verbonde aan die Oudtshoorn-verkeersdepartement en vyf van twee ryskole, wat teregstaan op aanklagte van korrupsie, bedrog en oortreding van die Padverkeerswet, is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof vir verhoor in die streekhof tot 16 Maart uitgestel.
Die saak is verlede jaar deur landdros Graehymne Williams vir ses maande tot verlede Vrydag uitgestel omdat die ondersoek toe nog nie afgehandel was nie.
Die staatsaanklaer adv. Deolin Willemse, het die hof vir uitstel vir nog drie maande gevra omdat die ondersoek toe nog ver van afgehandel was en verskeie verslae nog uitstaande was.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, adv. Benito Metembo, adv. Zukile Nkulu en Bulelani Bans, het beswaar aangeteken terwyl landdros Graehymme Williams duidelik ook nie baie gelukkig was nie.
Adv. Benito Metembo het dit aan die hof gestel dat die verdagtes as kriminele en oneerlike mense aangesien word en reeds deur die gemeenskap skuldig bevind word.
Dit is dus in belang van geregtigheid dat die saak so spoedig moontlik afgehandel word het hy toe gesê. Volgens hom behoort die saak van die hofrol geskrap te word indien die staat nie met die volgende hofdatum gereed is om met die verhoor te begin nie.
Die landdros het twyfel uitgespreek dat die ondersoek teen 18 November, soos versoek deur die staat, voltooi sal wees en voorgestel dat die saak vir nog ses maande uitgestel word.
Die landdros het ook bygevoeg dat indien die ondersoek dan nog nie afgehandel is nie, die beskuldigdes se regsverteen-woordigers 'n aansoek om ontslag kan bring.
Die borgtog van R5 000 aan elk van die nege van die verdagtes, Noloyizo Tose (38), Thabo Mgaba (42), Sandile Johnson (44), Warren Coetzee (45), Yolande Stalmeester (34), Phumezo Tshomiso (35), Samuel van Hansen (45), Promises Sovasi (39) en Xolile Gaya (39) is Vrydag deur landdros Stephanie Strydom verleng.
Die twee ander verdagtes, Ivan Human (60) en Ingrid Wagenaar is om mediese redes op waarskuwing vrygelaat.
Die saak hou verband met beweerde onwettige uitreiking van leerlinglisensies en rybewyse.
Vorige artikels:
- Rybewyssaak uitgestel
- 11 in Bedrogsaak verskyn in hof
- Nege persone vas vir bedrog
- Personeel by verkeersdepartement in hegtenis geneem
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'