OUDTSHOORN NUUS - Die elf verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle onwettige leerlinglisensies en rybewyse uitgereik het, word van korrupsie, bedrog en oortreding van die padverkeerswet aangekla.
Die saak is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof op versoek van die staat tot 29 Julie uitgestel.
Op 18 Februarie is 'n spesiale ondersoek-span van die SAPD en die Wes-Kaapse departement van vervoer aangestel om dié verdagtes te arresteer.
Dié span het ses verkeersbeamptes, personeel van die Oudtshoorn-munisipale verkeersdepartement en vyf verdagtes van Oudtshoorn-ryskole in hegtenis geneem.
Regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo wou van die staat weet watter verslae nog uitstaande is vir die ondersoek om afgehandel te word.
Staatsaanklaer, adv. Deolin Willemse, van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging, het verduidelik dat dit uitsluitlik forensiese en selfoonverslae is wat nog verkry moet word vir verdere ondersoek.
Twee van die verdagtes was na die arrestasie om mediese redes vrygelaat. Die ander nege verdagtes is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Die borgtog en borgtogvoorwaardes van Noloyizo Tose, Thabo Mgaba, Sandile Johnson, Warren Coetzee, Yolande Stalmeester, Phumezo Tshomiso, Samuel van Hansen, Promises Sovasi en Xolile Gaya is verleng terwyl Ivan Human en Ingrid Wagenaar op waarskuwing vrygelaat is.
Landdros Graehymme Williams het sy kommer uitgespreek oor die lang uitstel van die saak, maar hy het gesê dat hy nie die staat in 'n moeilike posisie wil plaas deur die versoek te weier nie en het die versoek van die staat toegestaan.
Vorige artikels:
- 11 in Bedrogsaak verskyn in hof
- Nege persone vas vir bedrog
- Personeel by verkeersdepartement in hegtenis geneem
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'