Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Ongeveer ses mense van die Oudtshoorn-verkeersafdeling is tussen gister en vandag, Saterdag 19 Februarie, deur die Valke in hegtenis geneem.
Voorlopige inligting dui daarop dat dit met lisensiebedrog verband hou. Dit is nog nie duidelik presies wat die klagtes is nie.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, was die burgemeester, Chad Louw en die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, nie bewus van die klagtes tot na die arrestasies nie.
"Die munispaliteit kan bevestig dat daar wel ampternare gearresteer was by die verkeersafdeling. Die munisipaliteit sal met die Valke saamwerk. Die munisipaliteit sal ook interne dissiplinere prosedures volg."
Volgens Mle is dit teen die beleid van die munisipaliteit om op hierdie stadium persoonlike inligting deur te gee van die amptenare wat gearresteer is.
Die Oudtshoorn Courant het wel verneem dat die verdagtes tans in aanhouding is en Maandag in die hof gaan verskyn.
'n Navraag is vanoggend aan die woordvoerder van die Valke gestuur, maar geen terugvoering is tot dusver ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'