OUDTSHOORN NUUS - 'n Openbare vergadering deur die munisipaliteit wat voorstelle vir die verfraaiing van die dorp moes oplewer, het verlede Woensdagaand in 'n kla-sessie ontaard. Gemoedere van inwoners wat die vergadering in die banketsaal bygewoon het, het hoog geloop met talle klagtes en aantygings oor die huidige stand van die dorp.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die vergadering belê en inwoners genooi om voorstelle te maak sodat die dorp met die aanloop van die KKNK verfraai kan word.
Die direkteur van gemeenskapsdienste, Tommy Matthee, moes egter bontstaan om vrae van ontstoke inwoners oor die toestand van die dorp te beantwoord.
Sprekers het die munisipaliteit van swak bestuur beskuldig en aangevoer dat daar nie mense met kundigheid in die parke-afdeling werk nie.
Matthee het toegegee dat die munisipaliteit nie oor 'n tuinboukundige beskik nie en dat daar nie vir die verfraaiing begroot is nie.
"Daar is nie geld nie," het hy gesê en 'n beroep op die sowat vyftig aanwesiges gedoen om met voorstelle vir 'n verfraaiingsprojek na vore te kom.
Elmarie Lategan, wat reeds met 'n groep werkers begin het om die dorpsingang vanaf Calitzdorp met klippe te verfraai, het voorgestel dat groepe gestig word wat aan verskillende volhoubare projekte werk. "Die verfraaiing voor die komende KKNK is net tydelik," het sy gesê.
Jaco Vorster, mede-eienaar van Camp Roadhouse, Camp Bakery en Wes-Handelshuis, het voorgestel dat 'n detailplan nodig is oor watter soort plante wanneer geplant kan word. Hy het ook die mening gelug dat 'n afvaardiging van inwoners die munisipale bestuurder oor die kwessie gaan spreek.
Nog 'n sakeman, Charlie Swanepoel, het nie geskroom om die munisipaliteit ernstig aan te spreek nie. Hy wou van Matthee weet waar die belastingbetalers se geld heen gaan en dat die munisipaliteit nie van inwoners moet verwag om die dorp vir "love and charity" te verfraai nie.
Volgens hom word mense in poste aangestel waarvoor die geld eerder vir die aankoop van 'n "ordentlike waterlorrie" gebruik kan word.
Nog 'n inwoner, Alet Coetzee, het haar misnoeë uitgespreek oor die verval van veral die ouditorium in die burgersentrum. Volgens haar is die aantrekgeriewe agter die verhoog glo "vieslik".
Sy het ook haar kommer uitgespreek oor die groot aantal advertensieborde langs die paaie asook die by die Queens Mall parkeerarea en wou weet wie toestemming daarvoor gegee het.
Sam Nisengo van TTM (Tourism Transformation Mission) het gesê die dorp stink. "Ons kan nie so voortleef nie. Wat nou aangaan is onaanvaarbaar," het hy gesê.
Hugo Theart, pas aangestelde artistieke direkteur van Kunste Onbeperk het die vergadering meegedeel dat daar verskeie ambassades is wat fondse beskikbaar stel vir die verfraaiing van dorpe en waarvoor die Oudtshoorn-munisipaliteit aansoek kan doen.
Oor wat gedoen kan word so kort voor vanjaar se KKNK het Theart gesê dit sal so gou as moontlik gedoen moet word.
Een van die aanwesiges het voorgestel dat die munisipaliteit moet red wat te redde is deur onmiddellik te begin met die natmaak van die gras en roosboompies wat nog op die middelmannetjie van Voortrekkerweg staande is.
Lees vorige artikels hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'