OUDTSHOORN NUUS - Die gemeenskap het die afgelope naweek met skok gereageer na die 37-jarige Hanneline Plaatjies in Dassieweg doodgery is. Die bestuurder het na verneem word, van die toneel gevlug.
Chanté Plaatjies, Hanneline se susterskind, sê sy het glo Saterdagaand van familie af gekom en was op pad huis toe toe die voorval plaasgevind het.
"My tannie woon in Black Joint saam met haar ouers. Sy was op pad huis toe toe sy raakgery is en is op die toneel dood verklaar."
Plaatjies beskryf haar tannie as 'n mense-mens met 'n goeie hart.
"Sy was spontaan en vriendelik. Ons gaan haar regtig mis."
Volgens sers. Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die vrou se liggaam omstreeks 21:00 die aand deur 'n verbyganger gevind.
"Die verbyganger het die vrou se liggaam op die sypaadjie opgemerk en die owerhede in kennis gestel. Die liggaam is met veel-vuldige beserings gevind en mediese personeel het haar later op die toneel dood verklaar," het Spies gesê.
Volgens Spies dui die voorlopige ondersoek daarop dat die slagoffer deur 'n voertuig getref is, en dat die voertuig nog opgespoor moet word.
Enige persoon met inligting oor die ongeluk word versoek om die ondersoekbeampte, Wilfred Apollis, by 044 203 9210 te skakel.
Hanneline word deur haar ouers, twee susters en 'n broer oorleef. Haar begrafnis vind volgende Saterdag, 6 April om 10:00 vanuit die Weyers Memorial United Congregational Church plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’