Video
OUDTSHOORN NUUS - Neels Terblanche van Oudtshoorn is druk besig om alles in plek te kry vir sy opkomende vaart om die wêreld in sy trapboot die Vaquita II.
Hy vertrek nou in Januarie 2026 vanuit Kaapstad-hawe om die eerste mens te word om manalleen om die wêreld te vaar. Die Vaquita II is tans in Kaapstad waar 'n paar veranderinge aan die trapboot gedoen word.
Eerstens is die boot nou uitgerus met aluminiumfoelie om beter insulasie aan die binnekant te verseker aangesien die kwik tot 40° binne die trapboot kan styg. Volgens Terblanche het hy ook die watertenks op die boot verander om seker te maak die boot se balans is veilig, asook sy watervoorraad. Verder is die stuur vergroot en verbeter en is 'n 50 kg keel ingesit vir verdere stabiliteit. Hy het ook nou 'n klein yskas om te verseker hy het altyd iets koud het om te drink, asook om kos, soos vis wat hy van die boot af kan vang te kan vries en vars te hou.
"Ek beoog om in November seeproewe met die Vaquita II van Houtbaai na Langebaan te doen."
VIDEO:
Roete
Terblanche beoog om uit Kaapstad te vertrek na St. Helena-eiland, gevolg deur Ascension-eiland waarna hy die Atlantiese oseaan sal oorsteek om Ilha Fernando de Noronha, net oos van Brasilië te bereik.
Dié deel van die vaart kan tot vyf maande duur. Van daar gaan hy na Barbados trap, gevolg deur Aruba om uiteindelik Colon die ingang van die Panamakanaal te bereik.
Nadat hy deur die Panamakanaal is sal hy in Panamastad sy voedsel aanvul voordat hy die lang vaart oor die uitgestrekte Stille Oseaan, 'n stuk van ongeveer 8 000 km aanpak.
"My volgende groot stop sal hopelik Auckland, Nieu-Seeland wees, waar ek my seun, Jean, sal kan besoek. Die reis sal van daar af voortgaan na Cairns, Darwin en Exmouth, Australië. Vanaf Exmouth sal die Indiese Oseaan na die Seychelle oorsteek, dan na die Comore en uiteindelik in Durban aankom.
Meer agter ekspedisie
Terblanche gaan poog om die wêreld-rekord te haal asook om geld in te samel vir die Mannatec 5 Million-projek vir ondervoede kinders, Operation Smile Suid-Afrika, asook en om Vusi Marenene se paralimpiese droom te verwesenlik. Terselfdertyd wil hy ook bewusmaking skep vir die Vaquita-tornyne, 'n krities bedreigde tornyn wat slegs in die Golf van Kalifornië, in Mexiko aangetref word.
Vorige artikels:
- Vaquita II slaag eerste toetse op Raubenheimerdam
- Vaquita II op die water
- Vaquita II vaar nou in September aanstaande jaar
- Vaquita II, meer as net 'n boot
- Seerower gevaar verander Vaquita se ekspedisie
- Fiksheid prioriteit vir ekspedisie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’