Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vanmiddag, 2 Mei, in 'n verklaring gesê dat die brandweer steeds besig is om die Allied-gebou te probeer afkoel.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het nooddienste vinnig gereageer op 'n brand wat vroeg vanoggend by die Allied-gebou, 'n sesverdiepingstruktuur in Oudtshoorn, uitgebreek het.
"Die brand is kort voor 06:00 aangemeld, en brandbestryders was dadelik op die toneel. Spanne van die Dysselsdorp-brandweereenheid, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en verskeie nooddienstepersoneel is na die toneel ontplooi."
Alhoewel die brand geblus is, bly die gebou uiters warm.
"Brandbestryders probeer steeds die gebou afkoel om te bepaal hoe stabiel die struktuur is." Wanneer 'n gebou brand sit die materiaal uit en wanneer dit afkoel krimp dit weer wat krake, strukturele beweging en ineenstorting tot gevolg kan hê.
Kerkstraat, Hoogstraat en Baron van Rheedestraat is gesluit om openbare veiligheid te verseker terwyl noodoperasies voortduur.
Volgens Mle werk die brandweer nou saam met die weermag en verkeersowerhede op die perseel.
"Waarnemende brandweerhoof, Harold Le Kay, lei die gekoördineerde reaksie. Lekay het gesê dat daar geen lewensverlies was nie en dat die oorsaak van die brand tans nie bekend is nie.
"Op hierdie stadium sal die polisie slegs toegang tot die gebou kry sodra strukturele ingenieurs bevestig dat dit veilig is om te betree. Strukturele ingenieurs sal egter eers die gebou kan betree sodra dit heeltemal afgekoel het.”
Uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn, raadslid Johan Allers, het gesê dat sy hart uitgaan aan die sake-eienaars en huurders wat verliese gely het in die brand by die Allied-gebou.
“Ek wil ook my diepste dank betuig aan alle noodpersoneel, van brandbestryders en weermaglede tot verkeersbeamptes wat vinnig en dapper gereageer het om die brand te bedwing. Julle toewyding gaan nie ongemerk verby nie.”
Vorige berigte:
- Update: Allied-gebou afgesper vir veiligheid
- Update: Oudtshoorn-gebou in puin week voor veiling
- Oudtshoorn-brand: Enorme skade aan gebou en ondernemings
- Allied-gebou op Oudtshoorn is aan die brand
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’