Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO'S - Die verwoestende brand in die Alliedgebou in Oudtshoorn het uitgebreek een week voor die gebou op Maandag 7 Mei, opgeveil sou word.
Die gebou behoort aan Klein Karoo Fonds, en is 'n bekende baken in Kerkstraat.
Klein Karoo Fonds besit talle geboue op die dorp, insluitend die Queen's Mall, Queen's Hotel, die Seppie Greeff-gebou en Caves Retirement.
Oudtshoorn Courant het met Klein Karoo Fonds kontak gemaak en sal in 'n opvolgberig vanmiddag meer detail verskaf.
Die brand het vermoedelik in ‘n haarsalon op die grondvloer uitgebreek en versprei toe ‘n sekuriteitswag in die straat die vonke gesien en ‘n venster gebreek het in ‘n poging om die brand te blus.
‘n Droogmuur het vlamgevat en die brand het na die boonste verdiepings versprei.
Buiten die haarsalon is besighede en organisasies in die gebou wat groot skade gely het, die kantore van SARS, Legal Aid, Korrektiewe Dienste, ‘n Sjinese “winskoopwinkel” en ‘n kleremaker.
Op die stadium is dit onduidelik of al die huurders aan alle veiligheidstandaarde, soos die installering van nodige brandblussers, voldoen het.
Die brandweer kon nog nie die gebou betree nie, weens veiligheidsredes.
Onveilig
Die brandweer en nooddienste kon nog nie die gebou - wat bykans in ligte laaie staan - betree om die situasie binne die gebou te assesseer nie.
Dit is nog te onveilig om in te gaan, want daar word gevrees dat dele van die gebou inmekaar kan sak.
Die brandweer is steeds besig om die gebou goed nat te maak en die voorlopige beveiliging van die gebou en omtrek van die toneel sal vermoedelik die hele dag neem. Of daar mense in die gebou was of is, is onbekend.
VIDEO: Plaaslike brandweer is steeds besig om warmkolle te blus. Video: Louise Mouton
Kerkstraat is toe van Baron van Reedestraat tot by Hoogstraat.
Die blok tussen die 2 rooi merkies is toe vir die publiek.
Baie Oudtshoorniete moet hulle regmaak vir ontvangs en internet-probleme, aangesien die Alliedgebou ook verskeie seintorings op sy dak huisves.
Op die stadium werk die torings nog, maar is afhanklik van batterye omdat die kragtoevoer afgesny is. Telkom-kliente sal moontlik geraak word en Eurotel het ook ‘n toring op die dak.
VIDEO: Redakteur, Liezl van Niekerk
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’