OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het 'n dossier vir strafbare manslag geopen na die dood van Sharlaine Lamont (18) nadat sy Sondag 29 Oktober omstreeks 02:50 langs Dassieweg, Bridgton in Oudtshoorn, deur 'n voertuig raakgery is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, dui die voorlopige ondersoek daarop dat twee voetgangers in Dassieweg geloop het toe hulle deur 'n voertuig, vermoedelik 'n Volkswagen Polo, getref is. Die Polo het ná die voorval weggejaag.
"Albei slagoffers het veelvuldige beserings opgedoen en is na 'n nabygeleë hospitaal vir mediese sorg feneem. Die 18-jarige is later deur mediese personeel dood verklaar. Die ander slagoffer is steeds in die hospitaal. ’n Soektog na die voertuig is tans aan die gang."
Die ondersoekbeampte, ao. Gregory Veldsman, doen 'n beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat kan lei om die betrokke voertuig op te spoor.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte by 044 203 9200 of 079 894 1897 kontak.
Spies sê verder dat 'n 27-jarige man in hegtenis geneem na 'n voorval waar 'n 72-jarige op die N12 op Vrydag 27 Oktober doodgery is.
"Daar word beweer dat 'n 72-jarige voetganger, Booi Okkers, die pad oorgesteek het toe hy deur 'n motorvoertuig getref is. Hy het veelvuldige beserings opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Speurders van Dysselsdorp ondersoek 'n klag van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van drank."
Ondersoek na albei voorvalle duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’