DYSSELSDORP NUUS - 'n Jong man, wat ‘n 65-jarige man met ‘n klip doodgekap het omdat hy glo bang was die man verkrag hom, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir twaalf jaar tronk toe gestuur vir moord.
Justin Baartman (22) het erken dat hy Klaas Campher die oggend van 23 Januarie 2020 in die veld verskeie kere met ‘n klip gekap het.
Volgens hom het hy die oorledene in die veld teëgekom en dié het hom vir 'n sigaret gevra en toe vir hom brandewyn aangebied om te drink.
Nadat hy klaar gedrink het wou die oorledene betaling daarvoor hê. Toe hy vra hoe hy moes betaal, omdat hy nie geld by hom gehad het nie, het die oorledene glo gesê met seks en sy broek probeer aftrek. Toe hy weier het die oorledene hom met ‘n klip aangeval waarna hy ook ‘n groot klip opgetel en die oorledene daarmee gekap het.
Baartman se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om af te wyk van die minimum vonnis van vyftien jaar omdat wel buitengewone omstandighede daarvoor bestaan. Hy het die hof gevra om ‘n korrektiewe vonnis te oorweeg omdat Baartman ‘n eerste oortreder is en sy meisie en twee kinders hom by die huis nodig het om vir hulle te sorg. Volgens hom sou die voorval nie plaasgevind het as dit nie vir die dronkenskap van die beskuldigde was nie.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het nie saamgestem nie.
"Die beskuldigde wil hê die hof moet glo dat hy baie dronk was en het die hof met sy getuienis probeer mislei."
Streeklanddros Sylvia Mandla, het Baartman se weergawe verwerp as leuens en die getuienis van kapt. Marius Fourie van die De Rust-polisie en ‘n ooggetuie, Hendrik van Hansen, as betroubaar aanvaar. Sy het bevind dat Baartman se lewe nie in gevaar was om homself te verdedig nie. Sy het in ag geneem dat die moord nie beplan was nie, maar op die ingewing van die oomblik plaasgevind het.
"Die beskuldigde het egter van sy verantwoordelikheid weggehardloop. Al was hy kwaad en geprovokeer kon hy ander stappe geneem het. Die foto’s voor die hof toon die genadelose aanval op die oorledene en die gemeenskap moet teen mense soos die beskuldigde beskerm word," het die landdros gesê en die hoop uitgespreek dat Baartman in die tronk 'n nuwe blaadjie sal omslaan.
Lees vorige artikels:
- Klipslaner skuldig aan moord
- Jong man vir moord op bejaarde in hof
- Jong man vir moord op bejaarde in hof
- Plakkaatoptog na moord in Dysselsdorp
- 64-jarige met klip doodgeslaan
- Moord op Dysselsdorp
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'