Gallery
OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot groep inwoners van Dysselsdorp, wat keelvol is vir dwelms en geweldsmisdrywe in hulle gemeenskap, het vanoggend voor die Oudtshoorn-landdroshof bymekaar gekom om 'n memorandum aan die hooflanddros, Jaco Lamprechts, te oorhandig na die moord op Klaas Campher op 23 Janaurie.
Campher (64) is twee weke gelede met 'n klip doodgekap na hy oudergewoonte hout in die veld naby die reservoir in Dysselsdorp gaan soek het.
Justin Baartman (22) is op die toneel vir die moord in hegtenis geneem en hy verskyn vandag vir 'n borgtogaansoek. Kaptein Joey Strydom, stasiebevelvoerder van Dysselsdorp-polisiestasie, het gesê mense wat hul bokke veld toe geneem het, het die polisie en ambulans gebel toe hulle die aanval gesien het. Campher het op pad hospitaal toe aan sy beserings beswyk.
Fotogalery: Gemeenskap staan op na Dysselsdorp-moord
Leon Campher, 'n gemeenskapsaktivis in Dysselsdorp, het tydens die oorhandiging gesê dat dwelms 'n groot probleem in hulle gemeenskap is.
"Wanneer polisieamptenare operasies in Dysselsdorp kom doen is daar steeds mense wat vir die polisie kwaad raak. Die gemeenskap moet eerder saam staan en die polisie help want dit is as gevolg van dwelmmisbruik dat ons mense vermoord, verkrag en aangerand word."
In die memorandum vra die gemeenskap dat borgtog nie aan Baartman toegestaan word nie en 811 mense het die memorandum onderteken.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'