Update
OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Klaas Campher, die 64-jarige man wat verlede Donderdag in Dysselsdorp vermoor is, is geskok oor die wrede manier waarop hy dood is.
"Hy was 'n vredeliewende mens wat nie 'n vlieg sou doodmaak nie en toe moes hy so wreed van ons af weggeneem word."
Ivan Lewies, Campher se grootmaakseun sê, Campher was welbekend in die gemeenskap en het nooit ander mense leed aangedoen nie.
Campher het verlede Donderdag in die veld by die reservoir gaan hout soek toe hy met 'n klip doodgeslaan is. Kaptein Joey Strydom, stasiebevelvoerder van Dysselsdorp-polisiestasie, sê mense wat hul bokke veld toe geneem het, het die polisie en ambulans gebel toe hulle die aanval gesien het.
Campher is onderweg na die hospitaal dood en die 22-jarige Justin Baartman is op die toneel vir die moord in hegtenis geneem. Hy verskyn op 4 Februarie vir 'n borgtogaansoek.
Lewies sê hy was by die werk toe hy van die voorval hoor.
"Ons moes hom aan die klere wat hy aangehad het uitken omdat sy gesig erg vermink was. Oom Klaas het vier kinders, wat nie syne was nie, soos sy eie grootgemaak. Hy het ook een dogter van sy eie, maar hy het ons almal dieselfde grootgemaak. Almal het hom geken. Wat die situasie erger maak is die feit dat die jong man wat in hegtenis geneem is by ons in die pad bly en bekend is aan ons."
Volgens iemand wat naby die moordtoneel werk, is hy en 'n sekerheidswag deur ander mense op die toneel geroep.
"Dit was wreed om die oom so te sien. Hy het nog gelewe toe ek daar aankom, maar al die beserings was aan sy gesig. Daar was ook 'n jong man op die toneel wat so 'n paar tree agter die oom in die bos weggekruip het. Sy klere was vol bloed. Dit was regtig nie mooi nie."
Campher word deur Lewis, Lourencia Lewis, Cecilia Lewis, Danie Lewie en Linda Marnewick oorleef. Sy begrafnis begin 09:00 by sy huis in Stegmanstraat, Dysselsdorp en die diens vind om 10:00 by die Swartberg-tehuis plaas.
Lees 'n vorige artikel: Moord op Dysselsdorp
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'