Update
OUDTSHOORN NUUS - Die vier mans, wat in verband met die transitorooftog by die Bridgton-vulstasie in hegtenis geneem is, se borgtogaansoek het Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof begin.
Simphiwe Matwa, Masixole Dolombo en Lwandiso Lento is op 19 Julie, kort nadat hulle 'n sekerheidswag van Fidelity Guards van R86 000 beroof het, aan George se kant van die Outeniquapas in hegtenis geneem. Sakhele Nkabi, 'n kaptein verbonde aan die Infanterieskool in Oudtshoorn is op 23 Julie in hegtenis geneem. Al vier die verdagtes woon in George.
Nkabi, Dolomba en Matwa word deur adv. Zukile Mqulo verteenwoordig, terwyl Bulelani Bans vir Lento verteenwoordig.
MP Heyns tree vir die staat op.
Al vier verdagtes staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, besit van vuurwapens, besit van ammunisie en besit van 'n ongemagtigde vuurwapen.
Volgens Heyns het hy die laaste klag Dinsdag bygevoeg omdat een van die vuurwapens se reeksnommers afgevyl was.
Masixole Dolombo
Lwandiso Lento
Sakhele Nkabi
Simphiwe Matwa
Die regsverteenwoordigers van die vier applikante het hul verklarings aan die hof gelees.
Volgens Mqulo is nie een van sy drie kliënte 'n vlugrisiko nie. Matwa het drie kinders en geen vaste werk nie. Hy besit wel 'n huis in die Oos-Kaap wat hy tans verhuur. Hy is ook 'n deeltydse taxibestuurder. Hy is die enigste broodwinner, en het nie 'n paspoort nie. Hy het aangedui dat hy R2 000 borgtog sal kan betaal.
Mqulo het gesê Dolombo sorg vir sy ma en gestremde kind. Hy is 'n werktuigkundige en het geen vorige veroordelings nie. Hy was wel voorheen op aanklag van diefstal in hegtenis geneem, maar dié saak is teruggetrek.
Nkabi is al vir die afgelope 16 jaar 'n soldaat by die Oudtshoorn Infanterieskool. Hy verdien R21 000 per maand na aftrekkings en kan R2 000 borgtog betaal.
Volgens Bans bedryf Lento twee tavernes en onderhou ook sy werklose vrou en drie kinders. Sy suster het 'n mediese toestand en hy help haar met mediese kostes. Volgens Bans is Lento nie 'n vlugrisiko nie en het reeds sy paspoort ingehandig.
Heyns het 'n verklaring van die ondersoekbeampte, ao. Lunika Buqa, aan die hof voorgelees. Die staat staan borgtog teen omdat die verdagtes as 'n vlugrisiko beskou word. Volgens die verklaring het 'n ooggetuie direk na die roof agter drie van die verdagtes aangery, wat met 'n Toyota Tazz van die toneel af weggery het.
Die ooggetuie het die Tazz tot by Timbercity gevolg waar hy gesien het hoe hulle die karre se nommerplate verander en toe in 'n Nissan Sentra klim en verder ry. Volgens die verklaring was Matwa 'n sekerheidswag van Fidelity. Hy was ook die een wat aan die polisie gesê het dat die uniform en die selfoon wat in die voertuig gevind is, aan Nkabi behoort. Volgens die verklaring is die Tazz by Dolombo gelos en daarna na Oudtshoorn gebring. Die voorval het tydens vlak4-inperking gebeur en die eienaar van die huis in Oudtshoorn het glo drank ontvang sodat die kar in sy erf kon staan. Daar is ook nommerplate in die kar gevind. Volgens die verklaring word die verdagtes moontlik ook met roofvoorvalle in George verbind en kan een van die vuurwapens ook moontlik een wees wat in die vorige voorvalle gebruik is.
Volgens Heyns is daar nie buitengewone omstandighede sodat die vier verdagtes op borgtog vrygelaat word nie en was hulle oor vorige, soortgelyke voorvalle ondervra.
"Die sekerheidswagte van Fidelity voel onveilig en voel dat dit die hof se plig is om hulle veilig te hou. Die applikante weet ook wie die getuies is aangesien een van hulle 'n sekerheidswag is."
Die saak is na 10 Augustus uitgestel.
Advokaat Mqulo is een van vier verdagtes wat op 28 Julie in Plettenbergbaai op borgtog vrygelaat is met betrekking tot 'n saak van gesteelde eiendom. (Lees meer hier).
Die vermeende rowers is kort na die roof vasgetrek.
Vorige artikels:
- Beweerde transitorowers voor vir borgtogaansoek
- Weermag kaptein doen in Augustus aansoek om borgtog
- Oudtshoorn soldier 4th suspect in heist
- Opvolg: Gesteelde geld teruggevind
- Rowers teiken geldwa
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'