PLETTENBERGBAAI NUUS - 'n Voormalige staatsaanklaer van die Oudtshoorn-landdroshof wat nou as advokaat praktiseer, is een van vier verdagtes wat op 26 Julie met ongeveer 164 kg koper in hul besit in hegtenis geneem is.
Die verdagtes was vanaf Plettenbergbaai na George onderweg toe die koper gevind is. Hulle het op 28 Julie in die Plettenbergbaai-landdroshof verskyn.
Adv. Zukile Mqulo en die ander drie verdagtes Mandla Twala, Litha Alam en Monwabisi Godongwana is almal op borgtog van R500 vrygelaat.
Die saak is tot 6 September uitgestel. Hulle is tussen die ouderdomme van 31 en 47 jaar oud.
Mqulo was 'n staatsaanklaer in die Oudtshoorn-landdroshof, en het ook talle sake in George behartig. Hy het onlangs sy eie regspraktyk in George begin.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, het lede van die Eden-groepsgebied se misdaadvoorkomingseenheid tydens 'n padblokkade 'n Toyota Quantum afgetrek en deursoek.
"Twee houers met koper en 'n boutsnyer is in die voertuig gevind. Die items is gekonfiskeer en die vier verdagtes is in hegtenis geneem," het Pojie gesê.
Hulle verskyn op aanklag van besit van gesteelde eiendom.
Mqulo is tans die regsverteenwoordiger van drie van die verdagtes wat op 19 Julie vir 'n transitoroof in Oudtshoorn in hegtenis geneem is.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'