Update
OUDTSHOORN NUUS - Al vier die verdagtes wat in verband met die transitoroof by die Bridgton-vulstasie in hegtenis geneem is, is vandag borgtog in die Oudtshoorn-landdroshof geweier.
Simphiwe Matwa, Masixole Dolombo en Lwandiso Lento is op 19 Julie, kort na die roof, in hegtenis geneem.
Sakhele Nkabi, 'n kaptein verbonde aan die Oudtshoorn Infanterieskool is op 23 Julie in hegtenis geneem.
Hulle staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, besit van vuurwapens, besit van ammunisie en besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen.
Landdros Marvin de Vos het vandag in sy uitspraak gesê dat hy geen buitengewone omstandighede kon vind om borgtog aan die beskuldigdes toe te staan nie.
Volgens hom het die staat ook 'n baie goeie saak en het die verdagtes nie die moeite gedoen om self aan die hof te verduidelik waarom hulle borgtog moet kry óf waarom die staat 'n swak saak het nie.
De Vos het gesê hy vind dit moeilik om te glo dat die verdagtes sal kan verduidelik waarom 'n vuurwapen en gesteelde geld in hul besit gevind is, en waarom daar 'n weermaguniform, wat aan een van die beskuldigdes behoort, in die voertuig gevind is.
De Vos sê voorts die verdagtes het die tendens om dieselfde tipe misdrywe te pleeg omdat hulle met soortgelyke voorvalle verbind kan word.
Volgens De Vos is daar ook 'n moontlikheid dat hulle met getuies kan inmeng en dalk selfs ook 'n misdryf pleeg.
Al vier die verdagtes bly in aanhouding tot hul volgende verskyning op 18 September.
Die verdagtes het by monde van hul regsverteenwoordigers aangedui dat hulle teen die uitspraak gaan appelleer.
Masixolo Dolombo
Lwandiso Lento
Kapt. Sakhele Nkabi
Simphiwe Matwa
Vorige artikels:
- Transitoroof: Saak weens Covid uitgestel
- Transitoroof: Saak vir uitspraak uitgestel
- Borgtogaansoek op 17 Augustus voort
- Beweerde transitorowers voor vir borgtogaansoek
- Weermag kaptein doen in Augustus aansoek om borgtog
- Oudtshoorn soldier 4th suspect in heist
- Opvolg: Gesteelde geld teruggevind
- Rowers teiken geldwa
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'