Update
OUDTSHOORN NUUS - Uit die groot teenwoordigheid van familie, vriende, kollegas, asook gemeenskapslede Donderdag 14 November by die kranslegging vir wyle Peter John (PJ) Sauls, was dit duidelik dat hy bitter geliefd was.
Die kranslegging het in Voortrekkerstraat plaasgevind waar Sauls Vrydagaand, 8 November, sy lewe in 'n gru-ongeluk verloor het.
Gemeenskapsleier Leon Campher het sy medelye en 'n kort boodskap van ondersteuning gegee.
Enrique Pietersen, skoolhoof van PJ Badenhorst Primêr in Dysselsdorp het staaltjies gedeel oor PJ en hoe hy altyd met die kinders gespeel het, "maar hy was nie hul maat nie, hul het respek vir hom gehad. Sy dood laat 'n ongelooflike leemte in ons skool. Hy was so gelukkig in sy werk en was baie lief vir sy skoolkinders by PJ Badenhorst Primêr."
Familie het beaam dat hy pligsgetrou was en het hard gewerk. Hy het respek gehad vir almal, was bitter lief vir sy ma, sy verloofde Kayla en sy vierjarige dogtertjie, Kiané en het 'n groot groep vriende gehad.
Na die amptelike verrigtinge het familie 'n kring gevorm en blou en wit ballonne losgelaat waarna twee kranse op die paal in Voortrekkerstraat opgesit is.
Die ongeluk
Sauls se voertuig is na bewering deur 'n dronkbestuurder getref waarna hy teen 'n muur gebots het.
Hy is oomblikke voor die voertuig begin brand het uit die voertuig gered, maar het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Die bestuurder van die voertuig is vir strafbare manslag en die bestuur van 'n voertuig onder die invloed van drank in hegtenis geneem.
Vorige artikels:
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’