OUDTSHOORN NUUS - Met die Swartbergpas wat na die sluiting van Meiringspoort, die enigste verbindingsroete tussen Oudtshoorn en Prins Albert is, is dringende maatreëls nodig om swaarvoertuie langer as sewe meter te verbied.
Dit het verlede week weereens duidelik geword toe 'n vragmotor (interlink) van bykans 20 m in die pas omgeslaan het.
Die ongeluk het verlede Donderdag, 16 Julie, omstreeks 02:30 die nag gebeur.
Dit blyk dat die vragmotorbestuurder kennisgewings op die pad geïgnoreer het en die Swartbergpas as kortpad wou neem. Die vragmotor het kort na die begin van die pas, aan Oudtshoorn se kant, op 'n skerp draai die pad verlaat en omgeslaan.
Die twee sleepwaens was met koring gelaai.
Die pas was Donderdag en Vrydag gesluit terwyl twee herwinningsvoertuie onderskeidelik van Beaufort-Wes en Kaapstad ontbied is om die vragmotor te herwin.
Ten spyte daarvan dat personeel by die stop-en-ry-punte op die grottepad vragmotorbestuurders waarsku dat die pas ontoeganklik is vir swaarvragmotors, het 'n lid van Oudtshoorn se nooddienste Donderdagmiddag 'n vragmotor met 'n vrag graan voorgekeer terwyl dit ook na die pas onderweg was.
Nog 'n vragmotor is Sondag voorgekeer.
Boere, sake-eienaars, inwoners en toer-operateurs het op landbou- en toerisme-groepe hul misnoeë te kenne gegee met die huidige padtekens wat volgens hulle heeltemal onvoldoende is.
Verkeerstekens
By die afdraaipad na die Swartberge, naby die grotte, is 'n verkeersteken wat toegang aan swaarvoertuie en woonwaens op die Swartbergpas verbied, en by Kobus se Gat is 'n ronde verkeersteken wat aandui dat geen voertuig wat sewe meter oorskry, die pas mag gebruik nie.
Kobus Lategan, eienaar van Kobus se Gat, sê hy het al vyf jaar gelede skrywes aan die provinsiale departement van paaie gerig met 'n dringende versoek om een of ander obstruksie op te rig waar swaarvoertuie nie kan deurgaan nie.
"Dan kan die drywer mos sien dit werk nie en dan moet daar plek wees om om te draai. Elke keer as 'n vragmotor in die pas vasval is die pas vir 'n dag of langer gesluit. Hier moet nou dringend iets gedoen word."
Verkeer neem toe
Saterdagoggend moes nog 'n voertuig uit die pas gesleep word nadat dit van die pad afgeloop het. Dit blyk dat plaaswerkers Saterdag op die toneel van die ongeluk probeer het om van die koring wat Donder-dag langs die pad beland het, op te laai. Die bakkie het skynbaar agteruit gerol en in 'n diep sloot langs die pad beland.
Sondag het personeel by 'n stop-en-ry-punt nog 'n voorhaker met sleepwaens voorgekeer wat na die Swartbergpas onderweg was.
'n Senior amptenaar van die provinsiale verkeersdepartement het verlede week gesê met die Swartbergpas wat nou die lewensaar tussen Oudtshoorn en die Karoo is, gaan verkeer oor die pas geweldig toeneem.
Hy sê mense wil brandstof en tyd bespaar, maar hulle besef nie hoe uitdagend die pas werklik is nie.
Volgens 'n inwoner van Prins Albert het familielede Saterdag op die pas gaan fietsry en in 'n kort tydjie 64 voertuie teëgekom.
Die Swartbergpas is op sekere gedeeltes uiters smal en word nou deur aflewerings-voertuie, bussies, plaasvoertuie en talle ander gebruik wat nie voorheen die geval was nie.
Departement antwoord
Volgens Melt Botes, woordvoerder van die departement van infrastruktuur, word die voertuiglengtebeperking van sewe meter duidelik aan albei kante van die pas aangedui, in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Padverkeerstekenhandleiding.
"Nietemin, gegewe die verhoogde verkeersvolumes, oorweeg die departement maniere om die boodskappe rondom hierdie beperking verder te versterk. Die huidige hoë verkeersvolumes is tydelik en sal na verwagting normaliseer sodra die alternatiewe noord-suid-verbindings heropen." Volgens hom word daar tans ook nie ander spoedbeperkingsmaatreëls, soos spoedhobbels, beplan nie, aangesien dit self veiligheidsrisiko's kan inhou, veral op onverligte landelike paaie.
"Die departement werk ook saam met die departement van mobiliteit om handhawing te versterk en te verseker dat padgebruikers wat die beperkings opsetlik ignoreer of verontagsaam, vervolg word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’