OUDTSHOORN NUUS - Neels Terblanche is druk besig om alles in plek te kry vir sy opkomende vaart om die wêreld in sy trapboot die Vaquita II. Hy vertrek op 30 September uit die Kaapstad-hawe om die eerste mens te word om manalleen om die wêreld te vaar.
Hy het deur middel van 'n video vir sy volgelinge verduidelik wat sy vaart gaan behels, waar hy gaan vaar en hoe dit werk.
Nuwe roete
Sy nuwe roete sien nou as volg daarna uit: Hy beoog om uit Kaapstad te vertrek na St. Helena-eiland, gevolg deur Ascension-eiland waarna hy die Atlantiese oseaan sal oorsteek om Ilha Fernando de Noronha, net oos van Brasilië te bereik.
Dié deel van die vaart kan tot vyf maande duur. Van daar gaan hy na Barbados trap, gevolg deur Aruba om uiteindelik Colon die ingang van die Panamakanaal te bereik.
Nadat hy deur die Panamakanaal is sal hy in Panamastad sy voedsel aanvul voordat hy die lang vaart oor die uitgestrekte Stille Oseaan, 'n stuk van ongeveer 8 000 km aanpak."My volgende groot stop sal hopelik Auckland, Nieu-Seeland wees, waar ek my seun Jean sal kan besoek.
Die reis sal van daar af voortgaan na Cairns, Darwin en Exmouth, Australië. Vanaf Exmouth sal die Indiese Oseaan na die Seychelle oorsteek, dan na die Comore en uiteindelik in Durban aankom.
Die laaste been sal ek langs die Suid-Afrikaanse kus terug trap na Kaapstad, vyf jaar na my vertrek op 30 Junie.
VIDEO:
Meer agter ekspedisie
Terblanche gaan poog om die wêreldrekord te haal met sy ekspedisie, asook om geld in te samel vir die Mannatec 5 Million-projek vir ondervoede kinders, Operation Smile Suid-Afrika, asook en om Vusi Marenene se paralimpiese droom te verwesenlik. Terselfdertyd wil hy ook bewusmaking skep vir die Vaquita-tornyne, 'n krities bedreigde tornyn wat slegs in die Golf van Kalifornië, in Mexiko aangetref word. Hul word ernstig bedreig weens 'n kombinasie van faktore, insluitend vangste in visnette, onwettige visvangaktiwiteite en habitatvernietiging. Tans is daar ongeveer net 10 Vaquita-tornyne oor in die oseaan volgens die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne (IUBN).
Vorige artikels:
- Vaquita II slaag eerste toetse op Raubenheimerdam
- Vaquita II op die water
- Vaquita II vaar nou in September aanstaande jaar
- Vaquita II, meer as net 'n boot
- Seerower gevaar verander Vaquita se ekspedisie
- Fiksheid prioriteit vir ekspedisie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’