Update
OUDTSHOORN NUUS - Natasha Stuurman (38), die vrou wat op 19 Januarie saam met Magdaleen Titus vir die moord op Preston Titus in hegtenis geneem is, is Dinsdag borgtog van R15 000 toegestaan.
Stuurman het saam met Titus op 29 Januarie vir 'n borgtogaansoek verskyn, maar Stuurman het toe aangedui dat sy nie om borgtog wil aansoek doen nie. Titus is in Februarie borgtog geweier.
Titus se man, Preston, is die nag van 1/2 Desember in sy huis vermoor. Hy het verskeie steekwonde aan sy lyf gehad.
Kapt. Deon Bouwer, 'n ondersoekbeampte in die saak, het Dinsdag vir die staat getuig. Hulle het borgtog teengestaan.
Volgens hom het Stuurman 'n persoon van belang in die saak geraak na hulle selfoonrekords gekry het wat bewys dat Stuurman met die ander verdagtes in die saak kontak gemaak het.
Hy het verder gesê sy is reeds op 6 Desember verlede jaar vir ondervraging in hegtenis geneem, maar is die volgende dag weer vrygelaat is. Bouwer het ook toegegee dat Stuurman wel 'n alibi gehad het toe die moord gepleeg is.
Chris Morgan, Stuurman se prokureur, het in sy slotbetoog gesê dat hulle in die verhoor die inhoud van die verklaring wat deur Stuurman by die polisie afgelê is gaan betwis, omdat sy op daardie stadium gedink het dat sy net 'n getuie in die saak is.
Volgens hom kon die staat tot dusver ook nie bewys watter beskuldigdes fisies op die toneel was toe die moord gepleeg is nie. Morgan het aangedui dat sy kliënt onskuldig gaan pleit omdat sy nooit deel was van die sameswering om moord te pleeg nie en dat sy nie eens geweet het dat die aanslag op Preston se lewe gaan wees nie.
"Die staat het nie 'n prima facie saak teen my kliënt nie en die belang van die gemeenskap het drasties afgeneem."
Hy het ook klem gelê op die feit dat die staat grootliks hul feite op Sixabiso Klip, die eerste verdagte wat gevonnis is, se verklaring gebaseer het.
"Dit is dus hoorsê en daar is geen ander manier waarop hulle die bewerings in Klip se verklaring kan staaf nie."
Hy het verder gesê dat Stuurman aan depressie ly en dat haar emosionele toestand verswak het sedert sy gearresteer is.
Adv. Michelle Weyers, wat vir die staat optree, sê die feit dat Stuurman skielik depressie het is vreemd omdat dit nog nooit geopper is nie en omdat daar geen bewyse daarvoor is nie. Sy het ook klem gelê op al die bewyse wat die staat teen Stuurman het en dat daar ander bewyse is wat wel Klip se bekentenis staaf.
Landdros The-Olén November het in sy uitspraak gesê dat dit wel in belang van geregtigheid is dat Stuurman op borgtog vrygelaat word.
Volgens hom beskou die hof haar nie as 'n vlugrisiko nie, is sy vir niemand 'n gevaar nie en was daar nog geen dreigemente teenoor haar gemaak nie.
"Die hof verstaan ook die gemeenskap se belang in die saak, maar die hof kan nie toelaat dat die hof beïnvloed word op die gemeenskap se gevoel nie."
Hy het gelas dat sy geen kontak met Vusumsi, Magdaleen Titus, Klip, Masithembe January en Justice Mooi mag hê nie aangesien hulle getuies in die saak is. Sy moet ook Maandae en Vrydae by Bongolethu-polisiestasie aanmeld, geen verdere misdrywe pleeg nie en haar reisdokumente inhandig.
Landdros Roelf Konstabel het die saak teen Titus, Mooi en Stuurman tot 4 Junie uitgestel. Op aanvraag van die staatsaanklaer, Lisa Cremer, het hy Titus streng gewaarsku om nie verder met getuies in te meng nie.
"Die beskuldigde maak kontak met getuies vanuit die tronk en dit kan as intimidasie gesien word," het Cremer gesê.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord: Stuurman kry borg
- Stuurman doen aansoek om borg
- Weermagmoord: Natasha Stuurman-borgtogaansoek vandag
- Weermagmoord: Borgtog geweier
- Weermagmoord: Geen borg vir Magdaleen Titus
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Borgtogaansoek steeds aan die gang
- Weermagmoord: Gerugte oor arrestasie onwaar
- Polisgeld dalk moordmotief
- ANC skors Magdaleen Titus tydelik
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgtogaansoek duur voort
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'