OUDTSHOORN NUUS - Die ondersoek oor die brand wat verlede Vrydag, 2 Mei, by die Allied-gebou in Kerkstraat uitgebreek het word steeds ondersoek.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die week gesê dat die Oudtshoorn-polisie 'n ondersoek geopen het. Die oorsaak van die brand moet nog vasgestel word, maar volgens hom word geen gemene spel in hierdie stadium vermoed nie.
Die gebou, wat deur die Klein Karoo Fonds (KKF) besit word, was vroeg Vrydagoggend in ligtelaaie en die brandweer het behoorlik gespook om die brand te blus.
Volgens inligting wat op die toneel bekom is, blyk dit dat die brand moontlik by die haarsalon op die grondvloer ontstaan het. 'n Sekerheidswag het na bewering die vonke gesien en die venster stukkend geslaan om die brand te probeer blus. Die brand het egter versprei.
Die gebou huisves onder andere SAID, Legal Aid, Korrektiewe Dienste, 'n Chinese "winskoopwinkel", 'n haarsalon, 'n kleremaker en internettorings op die dak. Talle dokumente het ook in die slag gebly, maar hopelik is belangrike papiere wat in kluise was, gespaar.
Niemand kon egter nog toegang tot die gebou gekry nie, omdat daar nog nie bepaal is of die gebou veilig is nie. Dus kon geen huurder nog ingaan om te kyk watter skade daar aan hul besighede is nie.
Verskeie klein besigheidseienaars het Vrydag verslae staan en toekyk hoe die gebou brand.
Die eienaars van Klein Karoo Fonds het die week gesê dat hulle wel in kontak met die huurders in die gebou is, maar dat hulle nog geen inligting oor die voorval bekend kan maak voor die ondersoek nie afgehandel is.
Oor die veiling wat 7 Mei sou plaasvind het hulle net gesê dat die proses vir eers gestop is.
Die veiling is op 23 April op Broll Auctions and Sales se Facebook-blad geadverteer as 'n multiverdieping, prima meerverdiepinggebou wat "geleë is in die hartjie van Oudtshoorn se besige kommersiële distrik en bied uitstekende sigbaarheid, toeganklikheid en 'n totale BVO van ongeveer 1 734 m²."
Volgens dié inligting beskik die gebou oor verskeie verdiepings wat geskik is vir kantoor- of kleinhandelgebruik, met die grondvloer wat direkte straattoegang bied. Dit sê verder dat die gebou 86.86% beset is met Korrektiewe Dienste as ankerhuurder en ook ander voltydse huurders.
Volgens van die verhuurders het hulle eers Vrydagoggend bewus geword van die veiling toe hulle die banier voor op die gebou gesien het.
"Die KKF het 'n e-pos gestuur waarin hulle sê dat die gebou vir 'n wyle nie gebruik kan word nie en dat ons nie toegang kan kry tot die ondersoek afgehandel is nie. Hulle het ook gesê dat hulle vir ons meer inligting sal gee sodra die ondersoek afgehandel is."
Hulle kon wel Dinsdagmiddag die gebou besoek.
Volgens een van die huurders het nie al die vloere brandskade nie.
"Party van die besighede het rook- en waterskade en daar is van ons wat van ons goed kon red."
Dit is onbekend hoe lank die ondersoek gaan duur.
Fotogalery: Allied-gebou in Oudshoorn brand uit.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’