Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n pa en seun van Bridgton, wat van moord aangekla word, is Donderdag in die streekhof uitgestel nadat die staat geweier het om 'n pleitverduideliking van die seun te aanvaar en die pa die hof meegedeel het dat hy sy eie regsverteenwoordiger wil aanstel.
Koos Stuurman (64), wat 28 vorige veroordelings op sy rekord het, staan saam met sy 20-jarige seun, Stilero Roman, tereg op aanklag van moord op die 23-jarige John-Lee Johnson.
Johnson is op 30 Oktober 2021 in 'n winkel in Dassieweg, Bridgton, deur Roman met 'n mes in die nek gesteek nadat sy pa na bewering vir hom 'n mes gegee en gesê het om Johnson te gaan doodsteek nadat hulle die vorige aand in 'n stryery betrokke was.
Die hof het tydens Stuurman se borgtog-aansoek van die ondersoekbeampte verneem dat Stuurman glo hande geklap het nadat sy seun vir Johnson gesteek het.
Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het geweier om Roman se pleitverduideliking te aanvaar.
Hy pleit onskuldig op die aanklag van moord, maar wel skuldig op strafbare manslag. Die oorledene se familie is ook nie daarvoor te vinde dat hy aan strafbare manslag skuldig bevind word nie.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
Die saak is daarna op versoek van Stuurman tot 8 Junie verdaag, omdat hy twee weke nodig het om 'n nuwe regsverteenwoordiger aan te stel.
Vorige artikels: Borgtog geweier aan pa en seun in moordsaak
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’