Update
OUDTSHOORN NUUS - Slegs een van die parke in Oudtshoorn sal op 'n openbare veiling verkoop word.
Dit is die gevolgtrekking ná 'n openbare vergadering wat Dinsdagaand, 11 Novem-ber, in die banketsaal gehou is oor die voorgenome verkoop van 54 eiendomme wat aan die Oudtshoorn-munisipaliteit behoort.Hoewel die vergadering in 'n goeie gees verloop het, was verskeie inwoners met gestremdhede ongelukkig oor die ontoeganklikheid van die banketsaal nadat die hysbak buite werking was. Dié inwoners is met die hulp van ander teenwoordiges teen die trappe opgedra. Burgemeester Johan Allers is hiervan in kennis gestel en het gesê dat dit onaanvaarbaar is.
Allers het Woensdag 12 November beves-tig dat die hysbak Dinsdag funksioneel was en dat dit gereeld gediens word. Hy het bygevoeg dat die hysbak Woensdagoggend weer normaal gewerk het.
Tydens die vergadering is slegs oor 15 van die voorgestelde erwe, die wat op Oudtshoorn-Noord en Wesbank van toepassing is, bespreek.
Die oorblywende erwe is in Bongolethu, Toekomsrus, Rosevalley en Dysselsdorp geleë en sal tydens die ander openbare vergaderings bespreek word.
Allers, saam met die munisipaliteit se stads- en streekbeplanner, Gilbert Cairncross, het elke erf individueel bespreek. Inwoners het die geleentheid gekry om insette te lewer oor watter eiendomme verkoop behoort te word of waarom dit nie verkoop moet word nie.
Die enigste park wat wel verkoop gaan word, is dié in St. Saviourstraat, agter Helen Bellinganhof tehuis vir bejaardes. Inwoners was dit eens dat die park 'n teiken vir misdaad geword het. Allers het voorgestel dat die erf eerder aan Bellinganhof aangebied word vir toekomstige behuising vir bejaardes. Daar is ook besluit dat die speeltoerusting op die perseel verwyder en na ander parke verskuif sal word.
Van die 15 erwe wat bespreek is, sal ses nie verkoop word nie. Dit sluit in dié in Luscombe-, Corrigan-, Melville-, Keyter-, Draai-, Buitekant-, Kort- en Middelstraat in.
Allers het verder beklemtoon dat daar 'n onderskeid is tussen parke en algemene openbare grond, en verseker dat geen laekoste-behuising op enige van die betrokke erwe ontwikkel sal word nie. "Daar is streng bouregulasies en enige hersonering moet volgens die wet geskied," het hy gesê.
Daar is eenparig besluit dat die volgende erwe wel verkoop mag word:
- Twee erwe in Birdstraat
- 'n Erf in Victoriastraat onderweg na die gevangenis.
- 'n Erf in Theronstraat
Veilingsproses
Volgens Allers sal die erwe by 'n open-bare veiling verkoop word en nie deur 'n tenderproses nie, sodat alle belang-stellendes, insluitend staatsamptenare, die geleentheid kry om mee te ding.
- Daar is verder besluit dat sekere erwe, soos dié langs die NA Smit-swembad, nie verkoop sal word nie. Die twee kleiner erwe in Taute- en Jan van Riebeeckstraat, wat aan 'n huiseienaar se perseel grens en nie vir behuising geskik is nie en sal eers aan die betrokke huiseienaar aangebied word.
- Twee oop erwe in Draaistraat sal wel verkoop word, asook die erf op die hoek van Gwarrie- en Jan van Riebeeckstraat naby die honde-eenheid, wat vir residen-siële doeleindes bestem is.
Openbare vergaderings oor die onderwerp het Woensdagaand, 12 November, by die Thusong-sentrum plaasgevind.
Daar vind vanaand, Donder-dag 13 November, ook 'n vergadering by die Dysselsdorp-gemeens-kapsaal om 18:00 plaas.
Die inligting oor die laaste twee vergaderings sal aanlyn bygewerk word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’