OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit se plan om oop erwe en parkies, wat tans in onbruik is, te verkoop het inwoners warm onder die kraag, veral oor gerugte dat sommige van hierdie erwe vir middel- en lae inkomste behuising bestem is.
Die eerste kennisgewing oor die voorneme is op 10 Julie vanjaar gepubliseer. Volgens die dokument beplan die munisipaliteit om 54 erwe deur middel van 'n openbare veiling teen markverwante waardes te vervreem. Die raad het bepaal dat hierdie eiendomme nie noodsaaklik is vir die lewering van basiese munisipale dienste nie.
Suksesvolle bieërs sal verantwoordelik wees vir alle oordrag- en hersoneringskoste, asook enige uitbreidings of opgraderings van siviele en elektriese dienste op die betrokke erwe. Inwoners kon tot 8 Augustus skriftelike kommentaar of besware indien.
SKAKEL: Hiermee die eerste advertensie van die munisipaliteit oor die oop erwe en parkies wat betrokke is: PROPOSED-ALIENATION-OF-FIXED-PROPERTIES-BY-WAY-OF-PUBLIC-AUCTION-CALL-FOR-PUBLIC-COMMENTS-ANNEXURE-A.pdf
Onder die eiendomme is twee parkies, een in Luscombestraat en een in Middelweg, wat tans deur AfriForum Oudtshoorn onderhou word. Volgens Donovan Kleinhans, voorsitter van AfriForum Oudtshoorn, het die organisasie 'n beswaarskrif van nege bladsye met 'n aparte verwysingslys teen die verkoop ingedien, sowel as 'n petisie met 260 handtekeninge van die publiek.
Een van die parkies wat reeds deur Afriforum onderhou word wat ook op die lys is. Foto verskaf
Die besware fokus op verskeie aspekte, waaronder die waarde teenoor koste, teenstrydigheid met die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) en die Tuinroete-ontwikkelingsplan, asook gemeenskaps- en omgewingsvoordele. Alternatiewe bestuursmetodes vir die parkies word ook voorgestel.
"Ons is nie teen ontwikkeling of die verkoop van ander leë erwe nie," sê Kleinhans. "Maar met soveel grond beskikbaar, waarom moet parkies verkoop word? Dis 'n bykans onomkeerbare stap."
Volgens hom het AfriForum reeds verskeie kere met munisipale amptenare vergader. Tydens 'n opvolgvergadering op 1 Oktober het Jaco Eastes, namens die munisipaliteit, bevestig dat die parkies wat AfriForum onderhou, nie verkoop sal word nie. Hy het egter beklemtoon dat daar druk is om laekoste-behuising te skep, en dat parkies goedkoper is om te diens as nuwe grond op die buitewyke.
Kleinhans sê die munisipaliteit het ook genoem dat daar beplan word om die parkie op die hoek van Draai- en Victoriastraat te verkoop vir moontlike ontwikkeling van 'n woonstelblok, aangesien die perseel groot genoeg is, dienste naby het en reeds oor 'n transformator beskik.
AfriForum het hier ook met inwoners in die omgewing gesels. Slegs vier mense was ten gunste vir die verkoop van die parkie terwyl 13 teen die ontwikkeling van die parkie is.
Burgemeester reageer
Burgemeester Johan Allers sê die raad het reeds in 2022 begin kyk na die toestand van die parkies en die kostes om dit te onderhou. In Junie vanjaar is die besluit geneem om die erwe te verkoop.
Volgens Allers sluit die lys erwe gebiede in soos Wesbank, Noord, Bridgton, Rosevalley, Dysselsdorp en Bongolethu. Daar is volgens die dokument waarop die erwe gelys word voorgestel dat sommige erwe sal vir behuising gebruik word, terwyl ander vir buurtwinkels, kleuterskole of kerke oorweeg word.
![]() Die erf is op die hoek van Parkweg en Rademeyerstraat. Foto's verskaf | ![]() Die oop erf is in Draaistraat. |
Hy sê die munisipaliteit wil nou weer die publiek kans gee om insette te lewer tydens drie openbare vergaderings.
Die datums hiervoor is:
- Dinsdag 11 November by die banketsaal om 18:00,
- Woensdag 12 November by die Thusong-sentrum om 18:00 en
- Donderdag 13 November by die Dysselsdorp-gemeenskapsaal om 18:00.
Die amptelike beswaar- en kommentaarvorms: PUBLIC-PARTICIPATION-PROPOSED-SALE-OF-MUNICIPAL-PROPERTIES-AND-ERVEN-Public-Participation-Comment-Objection-Form-1.pdf
Hierdie vorms sal ook by alle lokale beskikbaar wees vir skriftelike voorleggings.
Allers beklemtoon dat die munisipaliteit nie self lae inkomste behuising gaan bou nie. "Wat uiteindelik op die erwe gebeur, hang van die kopers af," sê hy.
"Ons wil die hele gemeenskap hiermee akkommodeer, nie net sekere groepe nie. Ons gaan die erwe visueel vertoon sodat almal kommentaar kan lewer. Aan die einde van die proses sal ons duidelik weet watter parkies inwoners wil behou of moontlik net verklein."
Volgens Allers is deursigtigheid en openbare deelname die kern van die proses. "Die inwoners van Groter Oudtshoorn het die reg om hul stem te laat hoor. Ons sal nie toelaat dat besluite in isolasie geneem word nie," sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

