Die Oudtshoorn Courant het Aurial Kollege in Springbokweg, Bridgton verlede Vrydag besoek op aanvraag van die voorsitter van die skool se beheerliggaam, Desmond George.
George, asook die skoolhoof, Phillip Stalmeester, het breedvoerig vertel van die skool se probleme wat reeds oor etlike maande strek, om kinders, personeel en eiendom te beveilig teen aftakeling wat meegebring word deur plunde-raars en vandale. Die skool was reeds vroeër in gesprek met die onderwysdepartement en amptenare het ook die skool tevore besoek. Daar blyk egter geen keer te wees aan die geleidelike afbreek en stuk-vir-stuk wegdra van die skool nie.
Palissades wat die skoolterrein beveilig het, is een gedeelte na die ander afgebreek en weggedra. `n Proses wat glo begin is na slotte deur ouers van die skool oopgeknip is sodat hulle `n korter deurgang te voet na die dorp kan geniet. `n Houtpawiljoen naas die sportveld het ook in die slag gebly waarna vandale hul fokus op die skoolgeboue gerig het.
Vrydag het lede van die skool se beheerliggaam gewys waar asbesplate gebreek is om toegang tot die opslaanklaskamers langs die sportvelde te verkry. Skade is aangerig aan die skoolgebou en skoolbanke. Sondagnag was dieselfde gebou in ligte laaie.
Dit blyk dat plunderaars 'n brand in die skoolgebou gestig het om later terug te keer om skrootmateriaal soos dakplate, vensterrame en diefwering makliker te verwyder.
Moedelose personeellede het Maandagoggend vertel van hul stryd teen vandale. Groot bedrae geld is onlangs spandeer om waterpunte op die skoolterrein te herstel. Enkele dae later is hierdie punte ook afgebreek en gesteel.
Die skool het voorheen `n sekuriteitsmaatskappy aangestel. Nadat wagte na `n aanval gehospitaliseer is weier hulle nou glo om by die skool te werk.
Die brandskade beteken 'n verlies van drie klaskamers en talle skoolbanke. Leerders en personeel het ook van hul werk en portefeuljes verloor.
Stalmeester het aan Oudtshoorn Courant vertel dat hy aan die hoof staan van `n spesiale span personeel. "Ten spyte van die omstandighede daag hulle elke dag op vir werk en doen hulle elkeen hul bes. Hulle is betrokke by middagklasse en Saterdagklasse en probeer om die kinders by te staan waar hulle kan." Stalmeester het egter gemaan dat omstandighede binnekort sal begin om `n "emosionele tol te eis." Stalmeester het dit ook duidelik gestel dat die skool, ondanks gerugte, nie gesluit gaan word nie.
Stalmeester het gesê dat die skool se enigste oplossing berus by samewerking tussen alle rolspelers, insluitende polisie, maatskaplike
dienste, ouers en die omliggende gemeenskap. "Ons wil nou `n dringende beroep doen op die departement om ons by te staan," het George gesê. "Dit is ook tyd dat ouers betrokke raak en eienaarskap neem van hul skool."
Bronagh Casey, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het op `n navraag geantwoord dat die WKOD bewus is van veiligheidsprobleme by die skool. "Die WKOD het ondersoek ingestel en daar is besluit dat die skool nuwe omheining benodig asook herstelwerk na vandalisme. `n Assessering van die brandskade word tans gedoen. `n Kontrakteur is ook reeds aangewys volgens die relevante tenderprosedures en het die skool Dinsdag besoek.
`n Berader het die skool ook besoek om bera-ding en ondersteuning te bied."
Sersant Gretchen Michaels, woordvoerder van Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat `n saak van brandstigting ondersoek word. Volgens Michaels word die skade op R350 000 geraam.
Marius de Oktober, ondervoorsitter van die beheerliggaam en Glenn Muller, voorsitter van die finansiële komitee wys palissades wat afgebreek is en skade aan klaskamers.
Desmond George, voorsitter van die beheerliggaam, wys waar gate deur klaskamers se mure gebreek is.
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'