OUDTSHOORN NUUS - As 'n skool die beste vir sy gemeenskap en kinders wil bied moet hy innoverend wees en tot 'n groot mate vir homself sorg. Dit was deel van die boodskap wat Ronelle Huysamen, skoolhoof van Laerskool Laurus, verlede Donderdag met gaste gedeel het.
Die geleentheid was die opening van Laurus se splinternuwe saal, Olivea, wat ook as 'n onthaalvenue gebruik kan word.
'n Kunsuitstalling van plaaslike kunstenaars asook leerders is ook die aand gehou.
Volgens Huysamen het die skool besluit om die bestaande skoolsaal vir onderrigdoeleindes aan te wend.
"Dit gaan 'n lokaal wees wat mense gaan verras, want ons beplan 'n totaal nuwe strategie vir ons gr. 7-leerders volgende jaar, en die saal gaan die middelpunt daarvan wees," het Huysamen gesê.
Sy het nie uitgebrei nie, maar genoem dat amptenare van die WKOD aan wie die planne vir volgende jaar voorgelê is, baie opgewonde is.
Oor skole se finansies en behoeftes van skole het sy gesê: "Skole moet besef dat die onderwysdepartement nie in al 'n skool se behoeftes kan voorsien nie.
Ons presteer goed, ons doen meer as wat ons moet doen om seker te maak ons kry broodnodige befondsing, maar dit wat kortkom moet ons met ondersteuning van ons ouers en gemeenskap, self aanvul."
'n Groepie marimbapselers van die skool het gaste met 'n aantal liedjies vermaak en beplan ook om tydens die vakansie by die Garden Route Mall op te tree.
Gaste tydens die opening van die Olivea-saal by Laurus. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'