OUDTSHOORN NUUS - Marnus Botha, 'n oudinwoner van Oudtshoorn en een van die toptien finaliste vir Mnr. Suid-Afrika, is tans in Johannesburg waar hy besig is om voor te berei vir die kroning van Mnr. Suid-Afrika wat Saterdag 9 November plaasvind.
Botha sê sy pad tot hier was soms uitdagend, maar meestal opwindend. Hy en sy vrou, Marguerite, het ook op 11 Oktober hul babaseuntjie verwelkom.
"Ons is almal baie opgewonde en het baie hard gewerk om op die punt te kom. Ons het 'n hele skedule wat ons moet deurwerk die week wat onder andere 'n reeks fotosessies, ontmoetings met handelsmerkvennote en onderhoude met beoordelaars behels. Ons kry ook bietjie leiding en mentorskap oor wat Saterdag van ons verwag word en hulp om ons 'stage ready' te kry."
Saterdagaand 19:00 is die groot geleentheid.
Botha verduidelik die okkasie word voorafgegaan deur 'n galadinee waar die deelnemers geleentheid gaan kry om met die media te gesels. Daar is 'n paar kategorieë waaraan hy gaan deelneem wat informele drag, formele drag en swembroekkategorie insluit. Daar is ook 'n afdeling waarin daar vrae aan die deelnemers gevra word.
Die geleentheid gaan nie op televisie uitgesaai word nie, maar word wel regstreeks gestroom. Die skakel hiervoor word eers later bekend gemaak.
Stem vir Marnus
Aanhangers van Botha het nog tot 7 November om vir hom te stem. Die publiek kry dus ook die geleentheid om hul insae te lewer oor wie die wenner van Mnr. Suid-Afrika moet wees. Die publiek se stemme tel 25% van finale resultate.
Enigiemand wat wil stem kan die skakel volg https://www.mrsa.co.za/votemarnusformrsa2024.
Lees die vorige berigte hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’