OUDTSHOORN NUUS - Ses vakbondverteenwoordigers van Samwu (Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie), is onlangs op 'spesiale verlof' geplaas na aanleiding van hul aksie tydens 'n raadsvergadering op 22 September waar hulle die raadsaal binnegegaan het en geweier het dat raadslede die saal verlaat voordat hulle 'n memorandum kon voorlees.
Oudtshoorn Courant het in die uitgawe van 29 September berig dat 'n groep Samwu-lede die vergadering binnegekom het en dit geblyk het dat hulle raadslede keer om die raadsaal te verlaat.
Samwu-lede het voor die deur gestaan en onder meer in 'n woordewisseling met raadslede betrokke geraak.
Die unie se sekretaris Amy Sylvester het gesê die raadsvergadering was die mees gepaste plek om 'n memorandum te oorhandig.
"Ons is siek en sat daarvoor om stil te bly oor alles. Ons moes dit in die raadsvergadering doen sodat die hele raad kan sien wat eintlik aangaan," het sy toe gesê.
Die Samwu-memorandum het vele punte bevat, onder meer kwessies oor beweerde onwettige aanstellings, inmenging met administrasie en die toestand van munisipale geboue en beroepsgesondheid en -veiligheid.
In 'n verklaring op daardie insident, uitgereik deur munisipale woordvoerder Aurelia Mle, is gesê dat Samwu die raadsvergadering "onaangekondig" binnegegaan het met die mikpunt daarop om hul memorandum aan alle raadslede voor te lees en aan die burgemeester te oorhandig.
"Die ontwrigtende optrede het ingesluit om die deure van die raadsaal te blokkeer en enigiemand te verhoed om te vertrek totdat hulle 'n spreekbeurt gegun is," het die verklaring gelui.
In die verklaring het burgemeester Chris Macpherson beklemtoon dat die raadsaal 'n soewereine vergaderplek is vir raadslede om sake volgens die agenda en huisreëls te bespreek, in die beste belang van die gemeenskap. Hy het gesê dat enige persoon wat die raad sonder toestemming binnekom, as 'n "vreemdeling" in die huis beskou word en onmiddellik verwyder moet word.
"Om sulke optrede toe te laat, sal die integriteit van die raad in gedrang bring," het Macpherson gesê. Kort na hierdie insident is Sylvester tesame met vyf ander vakbondverteenwoordigers na aanleiding van interne verhore op sogenaamde spesiale verlof geplaas en mag hulle nie gaan werk nie totdat hierdie proses voltooi is.
In gesprekke met Oudtshoorn Courant beweer Samwu dat die burgemeester die memorandum wat op 22 September oorhandig is minag. Hulle noem sy terugvoer 'n "swak skrywe".
Nog verder het Sylvester gesê dat die beweringe wat Samwu voorgelê het, reeds aan die polisie gerapporteer is.
Die onwettige aanstellings wat Samwu na verwys het in hul memorandum is ook steeds nie aangespreek nie.
Rakende beroepsgesondheid en -veligheidskwessies het Samwu beweer die depot waar werkers vergader (in Dassieweg) "belaglik" en "a shame" is. Hulle beweer die munisipaliteit kyk nie na die werkers nie en laat toe dat hulle in haglike toestande verkeer. Hulle beweer ook dat die "OHS"-komitee (beroepsgesondheid en -veiligheid) nie behoorlik kan vergader nie omdat die voorsitter van hierdie komitee se voorstellings nie aanvaar word nie. Dit vir die afgelope drie tot vier maande. Selfs hul "PPE" (persoonlike beskermende toerusting en kleredrag) word nie aangespreek nie - dit is nie van toepassing nie. Hulle beweer die munisipaliteit gee nie om nie, en ook dat hulle raadslede daarvan bewus gemaak het. Blykbaar was die departement van arbeid ook volgens Samwu bewus gemaak hiervan.
Samwu het verwag dat die burgemeester, na meer as sewe dae wat die memorandum oorspronklik oorhandig is, opdrag moet gee aan die munisipale bestuurder om sekere opdragte uit te voer. Dit het steeds nie volgens hulle gebeur nie.
Navrae oor hierdie kwessies en beweringe is aan die munisipaliteit gestuur.
Terugvoer ontvang deur middel van woordvoerder, Aurelia Mle, was soos volg: "Dankie dat jy met die navraag na ons gekom het aangaande die onlangse ontwikkelinge met betrekking tot amptenare binne ons munisipaliteit. Aangeleenthede wat ons amptenare betref, val binne die bestek van ons interne prosesse. Ons het prosedures en protokolle in plek om enige kwessies wat mag ontstaan binne ons organisasie, insluitende dié wat met ons werknemers verband hou, aan te spreek.
"Volgens wettige regulasies is ons verbied om inligting rakende amptenare bekend te maak, met 'n hoogste verpligting om hul privaatheid te beskerm."
Vorige artikel: SAMWU: Hele raad moet sien wat aangaan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’