Update
OUDTSHOORN NUUS - SAMWU, die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkers-unie, het nie Vrydag 22 September se raadsvergadering op Oudtshoorn ontwrig nie, sê die unie se sekretaris Amy Sylvester.
"Ons het 'n vergadering gehad waar ons lede ons 'n mandaat gegee het om 'n memorandum te gaan oorhandig aan die burgemeester oor die baie verkeerde goed wat binne die administrasie aan die gang is," het Sylvester gesê.
Vrydag se gewone raadsvergadering het vreedsaam verloop totdat 'n groep SAMWU-lede die vergadering binnegekom het en dit geblyk het dat hulle raadslede keer om die raadsaal te verlaat. SAMWU-lede het voor die deur gestaan en onder meer in woordewisselinge met raadslede betrokke geraak. Die polisie en wetstoepassers is geroep om die situasie te ontlont.
Raadsaal 'mees gepas'
Volgens Sylvester was die raadsvergadering die mees gepaste plek om hierdie memo-randum te oorhandig. "Ons is siek en sat daarvoor om stil te bly oor alles. Ons moes dit in die raadsvergadering doen sodat die hele raad kan sien wat eintlik aangaan," het sy gesê.
Die SAMWU- memorandum bevat vele punte, onder meer kwessies oor beweerde onwettige aanstellings, inmenging met administrasie en die toestand van munisipale geboue en beroepsgesondheid en -veiligheid.
Binne die memorandum word daar verwys na "geheime operasies" in terme van wat SAMWU die onwettige benadering van die raad en administrasie ten opsigte van aanstellings noem. Die memorandum stel dat hierdie aanstellings in stryd is met onder meer munisipale personeelregulasies, die werwings- en keuringsbeleid en die oortreding van die stelselwet en regulasies vir die aanstelling en diensvoorwaardes van senior bestuurders.
Onder elke punt van bespreking op die memorandum het SAMWU sekere vereistes gestel en die munisipaliteit sewe dae gegee om te reageer. Die memorandum is aan die burgemeester oorhandig.
Die ANC, OGI, PA en Advieskantoor het SAMWU se oogpunt na die tyd ondersteun, alhoewel die partye dit duidelik gemaak het dat hulle nie deel was van die insident nie. Hierdie koalisie het ook op die dag almal swart gedra om "te rou" oor wat tans in die dorp gebeur en om met inwoners saam te staan.
Zoe Tyatya, hoofsweep van die ANC, het gesê die ANC staan in solidariteit met wat SAMWU gesê het. "Ons staan ook saam met die belastingbetalers van Oudtshoorn. As mens na die tariewe kyk wat mense betaal, besef mens dit is onmenslik. Mense kan nie bekostig om die tariewe te betaal nie, en die onwettige aanstellings wat gemaak word is nie regverdig teenoor die mense nie," het hy gesê.
Luidens 'n verklaring van Tyatya, gaan die ongelukkigheid oor 'n aanstelling in De Rust en Dysselsdorp en die effek wat die verhoging van munisipale tariewe op inwoners het sowel as die gebrek aan dienslewering.
Optrede veroordeel
In 'n verklaring, uitgereik deur munisipale woordvoerder Aurelia Mle, is gesê dat SAMWU die raadsvergadering "onaangekondig" binnegegaan het met die mikpunt daarop om hul memorandum aan alle raadslede voor te lees en aan die burgemeester te oorhandig. "Die ontwrigtende optrede het ingesluit om die deure van die raadsaal te blokkeer en enigiemand te verhoed om te vertrek totdat hulle 'n spreekgeleentheid gegun is," lui die verklaring.
In die verklaring het burgemeester Chris Macpherson beklemtoon dat die raadsaal 'n soewereine vergaderplek is vir raadslede om sake volgens die agenda en huisreëls te bespreek, in die beste belang van die gemeenskap. Hy het gesê dat enige persoon wat die raad sonder toestemming binnekom, as 'n "vreemdeling" in die huis beskou word en onmiddellik verwyder moet word. "Om sulke optrede toe te laat, sal die integriteit van die raad in gedrang bring," het Macpherson gesê.
In die verklaring het Macpherson verduidelik dat die kwessie nie gaan oor die vraag of die vakbonde 'n memorandum wil indien nie. "As hulle vooraf die Speaker genader het, soos die reëls dit toelaat, en toestemming gevra het om 'n voorlegging aan die raad te doen, kon dit goedgekeur gewees het. Om die raadsaal binne te storm en eise te stel is onaanvaarbaar," het hy gesê.
Daar is egter nie kommentaar gelewer oor die punte wat SAMWU in die memorandum aangeraak het nie, insluitend die beweerde aanstelling in De Rust.
"Verder het vakbondlede die Speaker verhinder om sy regte uit te oefen deur raadslede gyselaar te hou, en hulle te verhoed om die kamer te verlaat, nadat die Speaker die raadsvergadering weens die onderbreking verdaag het," het Macpherson in die verklaring gesê.
Hy het verduidelik hy het geen probleem daarmee dat die vakbonde 'n memorandum aan hom voorlê nie. Hy het hulle na sy kantoor genooi om die memorandum in ooreenstemming met behoorlike prosedures voor te lê en te onderteken. Hy het beklemtoon dat hy nie 'n memorandum binne die raadsaal kan ontvang nie, aangesien dit die raad se integriteit in gedrang sal bring, 'n situasie wat voorkom moet word.
Nadat hy SAMWU-lede na sy kantoor genooi het na die ontwrigtings, het die burgemeester met die vakbond-verteenwoordigers gesels, die memorandum ontvang en onderteken, volgens behoorlike riglyne. Hy het dit duidelik gemaak dat hy nie sal toelaat dat enige individu of organisasie die raad se integriteit ondermyn nie, ongeag wie betrokke is.
Vorige artikel: SAMWU oorhandig memorandum aan Burgermeester
SAMWU-lede (staande) kom die raadsaal binne en vereis dat Oudtshoorn-raadslede na hul griewe luister.
Die ANC-koalisie, wat OGI, Advieskantoor en die PA insluit, voor die munisipale gebou in Voortrekkerweg. Almal dra swart omdat hulle "in rou" is, volgens hierdie koalisie oor wat by die munisipaliteit plaasvind.
SAMWU-lede en raadslede van die Oudtshoorn-munisipaliteit. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’