OUDTSHOORN NUUS - Meer as 'n jaar na die ongeluk op die grottepad waarin Marilize Nortier (18) dood is, is die beskuldigde wat na bewering die voertuig bestuur het, aangekla.
Hy verskyn Donderdag 26 November in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklagte van strafbare mansslag, alternatiewelik roekeloos of nalatige bestuur en die versuim om hulp te verleen na 'n botsing volgens die padverkeerswet.
Die ongeluk waarin Marilize, wat toe in matriek was, omgekom het, het in die vroeë oggendure van Sondag 22 September 2019 gebeur.
Die BMW waarin sy 'n passasier was, het beheer op 'n draai verloor en daarna deur die lug getrek en die oorkantste wal van 'n waterkanaal langs die pad getref en op die passasierskant in die water te lande gekom.
Die motor met die oorledene steeds in die passasiersitplek vasgegordel, is egter ongeveer 07:30 deur plaaswerkers wat naby die kanaal verbygestap het, opgemerk. Hulle het die plaasbestuurder gekontak.
Volgens hom was die oorledene se kop onder die water en hy het met behulp van die werkers, sy bakkie ingespan om die motor op sy wiele te trek.
Marilize het verdrink.
Vorige artikels:
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'