OUDTSHOORN NUUS - Die drie persone, wat verlede week in verband met die gewapende roof by Indraf Kafee in St. Saviourstraat op 25 Augustus in hegtenis geneem is, se saak is uit die hof gegooi omdat daar glo nie genoeg bewyse teen hulle is nie.
Dit is die vierde gewapende roof in drie jaar in Oudtshoorn.
In Augustus 2019 was daar 'n gewapende roof voor Camp Roadhouse en in Oktober 2019 het ses mans met wapens Market Fisheries beroof.
Op 18 Julie vanjaar is daar 'n Fidelity-sekerheidswag deur drie gewapende mans beroof. Die drie mans wat vir die roof by Indraf Kafee in hegtenis geneem is, is die volgende dag op Unieplein gevang.
Ongeveer R10 000 kontant en ander goedere waaronder sjokolade, sigarette en selfone is tydens die roof gebuit.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, was die eienaar van die winkel, sowel as twee ander persone binne die winkel toe die drie verdagtes die winkel binnegegaan het. Volgens Visser het hulle deur die rakke geloop en 'n vuurwapen op die eienaar gerig.
Die mans is vermoedelik buitelanders. Die gesteelde goedere en die wapen wat gebruik is, is nog nie gevind nie. 'n Werknemer van die winkel het die week aan Oudtshoorn Courant gesê dat die drie mans glo die vorige dag in die winkel was, vermoedelik om te kyk wat die situasie in die winkel is.
Volgens hom was hulle nie baie aggressief nie en is hulle dankbaar dat geen skote afgevuur is en niemand beseer is nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'