Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie is steeds besig om leidrade op te volg na 'n gewapende roof Maandagoggend voor Camp Roadhouse in Van der Rietstraat.
Jaco Vorster, die mede-eienaar van Camp Roadhouse en Wes-Handelshuis, is Maandag om 12:00 reg voor die winkel deur drie mans, wat met 'n silwer pistool gewapen was, van 'n groot kontantbedrag en sy Mercedes beroof
Volgens Voster was hy reeds in sy motor om bank toe te ry met die naweek se geld, toe hy iemand hoor skree.
"Ek was op die foon besig en toe ek opkyk toe staan daar 'n man met 'n pistool in my gesig. Hy het op my bly skree en my uit die kar gepluk en toe met die kar en die geld weggery."
Vorster sê hy het nie eens werklik gekyk na hoe die mans lyk nie, hy het net na die loop van die pistool in sy gesig gestaar.
"Ek het gelukkig nie seergekry nie. Ek is natuurlik geskok, maar regtig net bly ek leef en niemand het seergekry nie."
Vorster se Mercedes is minder as 'n uur later verlate in Edmeadstraat, 'n paar blokke van Camp Roadhouse af, gevind.
Die verdagtes het vandaar met 'n ander voertuig gevlug.
Aanvanklike inligting het daarop gedui dat die verdagtes moontlik met 'n Hyundai Accent gevlug het.
Die polisie het vingerafdrukke op die toneel geneem en die Mercedes is aan Vorster terugbesorg.
Kapt. Louis Visser, woord-voerder van die Oudtshoorn-polisie het gesê 'n klag van gewapende roof word ondersoek.
"Alle inligting wat ons kry word opgevolg, maar daar is nog geen verdere inligting oor die verdagtes of die geld nie."
Visser het verder gesê dat hulle nie die bedrag wat gesteel is bekend gaan maak nie omdat hulle wil verhoed dat ander besighede geroof word.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'