Update
OUDTSHOORN NUUS - Die moontlike motief agter Preston Titus se moord is skynbaar die polisgeld wat aan sy vrou, Magdaleen Titus, sou uitbetaal.
Dié inligting is Woensdag tydens Titus se borgtogaansoek in die Oudtshoorn-landdroshof deur ao. Martin le Roux, 'n ondersoekbeampte in die saak, bekend gemaak.
Le Roux het getuig dat Titus glo 'n verhouding met Masimthembe January (MJ) gehad het en dat Titus glo die polisgeld onder andere wou gebruik om hom te onderhou.
Titus het saam met Natasha Stuurman en Justice Mooi verskyn. Al drie word op die moord van stafsersant Preston Titus die nag van 1 Desember, aangekla.
Stuurman se borgtogaansoek moes ook Woensdag begin het, maar sy het by monde van haar prokureur, Chris Morgan, aangedui dat sy nie op dié stadium vir borgtog gaan aansoek doen nie.
Die drie verskyn saam omdat hulle saam in die saak aangekla word.
Magdaleen Titus se verklaring
Titus se prokureur, Joshua Greeff, het 'n verklaring van Titus in die hof voorgelees.
Volgens die verklaring het Titus sterk bande in die Oudtshoorn-gemeenskap. Haar kinders van 14 en 17 was hier op skool, maar is nou weens emosionele redes in 'n skool in Worcester en het hulle ma nodig.
Titus sê ook sy het verskeie gesondheidsprobleme wat sal versleg indien sy in die tronk bly.
Sy onderneem om niemand te dreig of met die staatsgetuies in te meng nie.
Greeff het ook 'n petisie aan die hof voorgelê met 1 200 handtekeninge van gemeenskapslede wat vra dat borgtog toegestaan word.
Staat se betoog teen borgtog
Adv. Michelle Weyers wat vir die staat optree het gesê dat hulle borgtog teenstaan.
Le Roux het verskeie redes voorgehou waarom Titus nie op borgtog vrygelaat moet word nie.
Lede van die gemeenskap Woensdag voor die hof.
Erns van misdryf
Volgens Le Roux was dit 'n uiters grusame moord.
"Daar is bewyse dat die moord beplan was. Daar is ook verdere bewyse dat Titus die eerste beskuldigde, Sixabiso Klip, se regsverteenwoordiger adv. Benito Metembo, betaal het om hom in sy borgtogaansoek te verteenwoordig.
"Ons het 'n verklaring van Klip se ma en ouma wat dit bevestig.
"Dit dui ook daarop dat daar pogings aangewend is om die beskuldigdes in die saak te verhoed om met die polisie te praat."
Hy het verder gesê dat daar bewyse is van 'n liefdesverhouding tussen Titus en MJ en dat Titus vermoedelik haar man laat vermoor het sodat sy die polisgeld wat aan haar bemaak sou word kon gebruik om MJ te onderhou.
Gemeenskap se belang
Le Roux het aan die hof twee briewe van Preston se familie voorgelees.
Volgens Preston se broer, Howard Titus, is daar 'n bende in Worcester wat glo aanslae gemaak het op die lewens van mense wat by die saak betrokke is.
Daar is volgens Le Roux ook bewyse dat Maggie Titus in kontak was met lede van die bende na haar arrestasie.
Preston se ma, Murial, het ook 'n brief geskryf waarin sy sê dat Titus geen kontak met haar gemaak het na Preston se dood nie en dat Titus ook die kinders van Preston se familie weerhou.
'n Petisie teen Titus se borgtog, wat skriftelik sowel as aanlyn deur 3 378 mense geteken is, is ook as bewysstuk ingedien.
Saak uitgestel
Die saak is tot 21 Februarie uitgestel sodat Le Roux se getuienis voortgesit kan word.
Twee verdere datums, 22 en 28 Februarie, is ook uitgesit sou die borgtogaansoek nie op die 21ste klaarmaak nie.
Titus deur ANC geskors
Die ANC se provinsiale sekretaris, Faiez Jacobs, het hierdie week bevestig dat Titus se lidmaatskap van die ANC tydelik opgeskort is as gevolg van die erns van die aanklagte.
Dit beteken dat sy nie meer 'n raadslid in Oudtshoorn is nie. Die ANC moet nou 'n ander raadslid in haar plek benoem.
Lees vorige artikels:
- ANC skors Magdaleen Titus tydelik
- Opvolg: Magdaleen Titus-borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgtogaansoek duur voort
- Weermagmoord: Borgaansoek vandag in hof
- Weermagmoord: Borgtog aan Mooi geweier
- Weermagmoord: Hofsaak uitgestel
- Sterk polisie-teenwoordigheid by borgtogaansoek
- Weermagmoord: Verdagte nader koerant
- Preston Titus met 3rde poging vermoor
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'