Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Dis te danke aan jare se ervaring om in sneeu en op ys in België en elders in Europa te ry dat hy gestrande motoriste kon bystaan om hulle voertuie die afgelope naweek van die Swartbergpas af te kry, sê Roeland Gabriel.
Hy is 'n ervare toergids en 'n kenner van die Swartbergpas asook die kronkelpad vanaf die Swartbergpas na Gamkaskloof (Die Hel).
Gabriel se hulp is Saterdagoggend deur Geoffrey Wolmarans van GH Towing, ingeroep om voertuie wat op die sneeu- en ysbedekte pas vasgeval het, na veiligheid te bring.
Van die voertuie het reeds Vrydag vasgeval toe motoriste die pas aangedurf het nadat verkeersbeamptes nie meer by die padtekens aan diens was nie.
LEES: Herwinning van voertuie begin
"Geoffrey het nie 'n voertuig wat op die ysbedekte pad kan ry nie en het my toe gevra. Met toestemming van die verkeersowerhede het ek en 'n helper Saterdagoggend die situasie gaan assesseer om te kyk wat ons kan doen."
Volgens Gabriel het hy Saterdag en Sondag agt voertuie wat op die pas vasgekeer was na veiligheid gebring. "Sommiges kon ek self uit die plekke waar hulle vasgesit het ry, maar ander moes ons uitsleep."
Kyk 'n video hieronder:
Om 'n voertuig onder die naweek se ysige toestande uit te sleep, is volgens Gabriel egter geen eenvoudige taak nie. "Met een voertuig moes ons toue aanmekaar las omdat ek my voertuig byna 60 meter verder moes laat staan waar ek vastrapplek kon kry. Op ander plekke moes ons 'n yslaag op gedeeltes van die pad stukkend kap sodat dit begaanbaar is."
Terwyl sommige mense in die moeilikheid beland het bloot omdat hulle al die inligting dat die pas gesluit is, geminag het, glo Gabriel dat van die mense hulle bloot misgis het.
Een groep wat op die pas gestrand was, het van Prins Albert se kant af gekom waar die padtekens blykbaar omgegooi was. "Omdat die Prins Albert-kant van die pas die hele dag son kry was daar nie ys nie en die mense het eers die gevaar besef toe hulle aan Oudtshoorn se kant teen die pas afgekom het en toe was dit te laat," sê Gabriel. Hy het daardie groep bygestaan en hulle veilig by 'n hotel in Oudtshoorn besorg waar hulle kon oornag totdat hulle voertuig die volgende dag bevry kon word.
Gabriel het ook verskeie mense wat te voet teen die pas op is opgelaai toe hy besef het hulle het hulle met die afstand en tyd misgis. Hy sê hy was verstom om Sondag, terwyl hy op die pas besig was, weereens talle voertuie te kry wat ten spyte van al die kennisgewings dat die pas gesluit is, dit tog gewaag het.
Verkeersbeamptes het Saterdagoggend diens gedoen om te voorkom dat mense die Swartbergpas gebruik. Foto: Emsie Martin
"Ek het dit vreeslik geniet om die mense te help en ek het sommer 'n klomp nuwe vriende gemaak, maar natuurlik was daar ook hier en daar 'n ongeskikte een wat eintlik maar net vir homself kon kwaad wees," het Gabriel Maandag gesê.
Daar is egter ook 'n positiewe kant van die sneeuseisoen sê Gabriel. "Met Covid is mense soos ek wat van toerisme afhanklik is, nou al meer as 'n jaar sonder 'n sent inkomste. Ek het die naweek weer besef hoeveel honderde mense stroom hierheen as dit sneeu en ek glo dit is iets wat ons moet ontwikkel. Daar is 'n hele mark wat ontgin kan word as ons sneeu kry."
Verkeersbeamptes het Saterdagoggend diens gedoen om te voorkom dat mense die Swartbergpas gebruik. Foto: Emsie Martin
Roeland Gabriel wat die naweek ure op die pas deurgebring het om gestrande motors na veiligheid te bring. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'