Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Daar is pas verneem dat vier voertuie op die Swartbergpas gestrand is nadat bestuurders vroeër vandag padtekens dat die pas gesluit is, verontagsaam het en die pas aangedurf het.
Een voertuig het selfs 'n sleepwaentjie gesleep.
Amptelike inligting is nog nie bekom nie, maar op 'n video wat aan Oudtshoorn Courant gestuur is, kan drie van die gestrande voertuie gesien word.
Die vierde een het bo-op die pas gegly en in 'n vlak sloot beland waar dit ook steeds staan.
Dit blyk dat noodpersoneel en vrywilligers vanmiddag nuus ontvang het van mense wat nog gestrand was. Die insittendes van 'n VW Amarok kon tot op die kruin van die pas geneem word waar 'n ander voertuig wat ook op 'n stadium vasgeval het, hulle kon oplaai en Prins Albert toe neem.
Die pad is tans ontoeganklik vir insleepvoertuie.
Die hoof van die provinsiale verkeersdepartement in Oudtshoorn het vandag gewaarsku dat die pad gesluit is en uiters gevaarlik is as gevolg van ys en modder.
Die video is vanaf die privaat voertuig geneem wat gebruik is om die mense te gaan help het en toe op die kruin van die pas omgedraai het.
Kyk 'n verskafde video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'