Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige onderburgemeester van Oudtshoorn, Mlandile Nyuka, wat in November aan seksuele aanranding skuldig bevind is, is gisteroggend, 9 Februarie, in die streekhof tronkstraf van vyf jaar opgelê.
Die 49-jarige Nyuka is deur streeklanddros Sylvia Mandla daaraan skuldig bevind dat hy die oggend van 27 September 2022 'n vrou na sy kantoor ontbied het en die deure gesluit het. Hy het daarna haar rok opgetel en begin betas. Toe die telefoon lui, en hy dit gaan beantwoord het, het sy kans gekry om weg te kom.
Die hof het bevind dat die 37-jarige klaer, sowel as die eerste persoon aan wie sy van die voorval vertel het, betroubare getuies was, en geen redes bestaan om nie hul getuienis te aanvaar nie. Nyuka se verweer is verwerp.
Die staatsaanklaer, Mervin Saaiman, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Nyuka nie ‘n eerste oortreder is nie en in 2013 ook aan seksuele aanrandig skuldig bevind is. Hy is toe tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis. Hy het dus nie gerehabiliteer nie.
Sy regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof versoek om sy tydperk in aanhouding vir vonnis in ag te neem, asook die feit dat tien jaar verstryk het sedert die vorige voorval waarvoor hy tronkstraf opgelê is.
Mandla het tydens vonnisoplegging haar misnoë uitgespreek teenoor persone soos Nyuka wat hul posisie gebruik om vroue te misbruik. Die hof het bevind dat ‘n korrektiewe toesigvonnis, soos aanbeveel deur ‘n korrektiewe beampte, ‘n verkeerde boodskap sal uitstuur en direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees.
Die hof het ook gehoor dat Nyuka ’n saak van aanranding in die gesig staar vir ‘n voorval wat tydens sy aanhouding in die gevangenis plaasgevind het.
Vorige artikels:
- Nyuka skuldig aan seksuele aanranding
- Uitspraak Woensdag in saak teen Nuyka
- Raadslid Nyuka word borgtog geweier
- Onderburgemeester Nyuka steeds in aanhouding
- Burgemeester besorg oor ‘kwelpunte’ in voorbladberig
- Onderburgemeester Nyuka in tronk
- Burgemeester bewus van klagtes teen onderburgemeester Nyuka
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’