Update
OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige onderburgemeester van Oudtshoorn, Mlandeli Nyuka (41), is gister in die Oudtshoorn-streekhof aan seksuele aanranding skuldig bevind en vonnisoplegging vir 'n proefbeampteverslag tot 6 Desember uitgestel.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat die 37-jarige klaer sowel as die eerste persoon aan wie sy onmiddellik daarna van die voorval vertel het, goeie getuies was.
Albei was kalm en vol vertroue terwyl hulle getuig het en daar is geen rede om nie hul getuienisse te aanvaar nie. Daarteenoor was Nyuka nie 'n goeie getuie nie en het hy, volgens Mandla, sy getuienis gefabriseer.
Nyuka word daarvan aangekla dat hy op 27 September 2022 die klaer in sy kantoor betas het, nadat hy die deure gesluit en haar die pos van kantoorbestuurder aangebied het.
Die vrou het getuig dat Nyuka haar die betrokke oggend na sy kantoor ontbied het, om glo oor partysake te praat. In plaas daarvan het hy toe haar rok opgetel en haar begin betas. Sy het weggekom toe die telefoon in haar kantoor gelui en die beskuldigde dit gaan antwoord het.
Nyuka het onskuldig gepleit en verlede week die wenkbroue laat lig toe hy tydens kruisondervraging deur die staatsaanklaer, Mervan Saaiman getuig het dat die klaer hom seks aangebied het in ruil vir wat hy alles vir haar doen. Sy het glo aan hom gesê dat hy so goed is vir haar dat sy vir hom iets wil teruggee.
Hy het teen die einde van die kruisondervraging ook gesê dat hy die enigste een is wat die waarheid praat en dat die klaer sowel as die vrou aan wie sy dit eerste gerapporteer het, twee leuenaars is. Voorts het Nyuka getuig dat hy die klaer se salaris uit sy sak betaal het en hy haar nooit betas het soos wat sy getuig het nie.
Nyuka het nege vorige veroordelings.
Vorige artikels:
- Uitspraak Woensdag in saak teen Nuyka
- Raadslid Nyuka word borgtog geweier
- Onderburgemeester Nyuka steeds in aanhouding
- Burgemeester besorg oor ‘kwelpunte’ in voorbladberig
- Onderburgemeester Nyuka in tronk
- Burgemeester bewus van klagtes teen onderburgemeester Nyuka
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’