RUGBY NUUS - Die SWD Arende se afseisoenprogram is daarop gemik om 'n groter, sterker en fikser span te bou wat volgende seisoen fisiek kan domineer.
Jacquin Marthinus, die span se krag- en kondisioneringsafrigter, sê die harde werk agter die skerms moet die grondslag vir beter prestasies op die veld lê.
Die Arende se spelers werk tans deur 'n intensiewe program wat vyf kondisio-neringsessies per week insluit. Dit bestaan uit kontakkondisionering, lang hardloopsessies, oefeninge op die strand of duine en fietsoefeninge in die gimnasium.
Volgens Marthinus het die spelers onlangs 'n hipertrofieblok voltooi om spiermassa op te bou, waartydens hulle tussen 2 en 5 kg spiermassa bygetel het. Die span het nou met 'n kragblok van 10 weke begin.
"Die fokus is om ons spelers groter, sterker en fikser te kry. Die doel is nie net om die fiksste span te wees nie, maar ook die mees dominante een," sê Marthinus.
Fiksheid onder die vergrootglas
Tydens vanjaar se SA Beker en die begin van die Curriebeker het die Arende se fiksheid volgens Marthinus in die tweede helftes van wedstryde 'n uitdaging gebied. Die afseisoen bied nou die geleentheid om dié aspek deeglik aan te spreek.
"Ons sien reeds groot verbetering in spelers se fiksheid en krag. My doelwit is om elke speler in die beste fisieke vorm van sy lewe te kry voordat ons voorseisoen begin," verduidelik hy.
Die spelers se vordering word deur gereelde toetse gemonitor, waaronder bankdruk- en hurktoetse in die gimnasium, asook Bronco- en herhaalde naellooptoetse op die veld. Die fokus val veral op spierkrag, spiermassa en uithouvermoë.
Hersteldeel van die plan
Die harde oefenprogram gaan hand aan hand met herstel en beseringsvoorkoming. 'n Voedingskundige het reeds met die spelers oor behoorlike voeding en liggaamsorg gesels, terwyl Marthinus 'n daaglikse puntestelsel ingestel het om hulle aan te moedig om hul herstelwerk te doen.
Foam rolling, strekoefeninge en ysbadsessies vorm deel van die program. Die spelers kry ook gereelde ruspouses ná twee tot drie weke se intensiewe oefening.
Marthinus beklemtoon dat die spelers self verantwoordelikheid vir hul liggame moet aanvaar, aangesien herstel buite die oefensessies net so belangrik is.
Die opoffering agter 80 minute
Hoewel die ondersteuners die eindproduk op 'n Saterdag sien, lê daar maande se harde werk agter elke wedstryd. Volgens Marthinus is die afseisoen een van die moeilikste tydperke vir die spelers, wat vyf dae per week fisiek en geestelik tot buite hul gemaksone gedruk word.
Ná oefensessies in die gimnasium en op die veld draai hul dae grootliks om eet en slaap om vir die volgende sessie te herstel.
"Dit is alles wat 'n speler doen om net 80 minute op 'n Saterdag te speel," sê hy.
Die boodskap aan die Arende se ondersteuners is dat die span alles in sy vermoë doen om volgende seisoen sterker en meer mededingend op die veld te wees.
"Die bloed en sweet wat ons spelers nou insit, gaan die moeite werd wees. Die ondersteuners kan 'n span verwag wat meer fisiek is, 'n geen-opgee-mentaliteit het en daarna streef om die fiksste span in elke kompetisie te wees," sê Marthinus.
Vir die Arende begin die werk aan volgende seisoen se sukses dus lank voordat die eerste fluitjie blaas.
Xavier Swartbooi in die ysbad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’