OUDTSHOORN NUUS - Motorfietsryers word genooi om op Saterdag 17 Oktober deel te wees van ’n uitreikgeleentheid by die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD).
Pediatric Care Africa (PCA) hou op dié dag ’n besondere mediese uitreik by die APD-sentrum in GG-Kamp vir kinders en volwassenes met gestremdhede. Tydens die uitreik sal dokters en tandartse na verwagting bykans 85 minderbevoorregte pasiënte met gestremdhede behandel.
Terwyl hulle met die ondersoeke en behandeling besig is, wil die PCA se dr. André Hattingh en sy span kinders wat fisiek daartoe in staat is die geleentheid bied om ’n kort rit op ’n motorfiets mee te maak. Dié wat nie daartoe in staat is nie, sal die geleentheid kry om die motorfietse van naderby te beskou en die enjins te hoor.
Hattingh onderneem jaarliks ’n motorfietsrit van 7 000 km deur die land om fondse vir mediese sorg vir behoeftige kinders in te samel. Hierdie geleentheid vorm deel van dié projek.
Elke motorfietsryer en APD-persoon wat daardie dag op ’n motorfiets ry, ontvang ’n Ride for a Child 2026-kenteken as deel van PCA se jaarlikse Ride for a Child-program.
Motorfietsryers wat graag wil deelneem word versoek om Saterdagoggend 17 Oktober om 10:00 by die APD-sentrum agter binnelandse sake in Dassieweg bymekaar te kom.
Bring asseblief jou motorfiets en help om ’n persoon met ’n gestremdheid te laat glimlag.
Navrae of aanwysings: Demorian by 081 086 1886 of Joyce by 076 229 5663.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’