Update
OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan Breyton Bruiners (25) wat van aanranding om ernstig te beseer aangekla word.
Bruiners is ook een van vier verdagtes in die moordsaak van Justin Booysen van Rosebank. Die moordsaak en aanrandingsaak is nie verwant aan mekaar nie.
Bruiners word in die aanrandingsaak daarvan aangekla dat hy op 2 November 2019 'n man naby die Bongolethu Taverne met 'n mes in die skouer, agter sy rug en in sy kop gesteek het.
Hy het aangedui dat hy onskuldig sal pleit.
Die ondersoekbeampte, ao. Morné Janse van Rensburg, het borgtog teengestaan omdat dit in belang van geregtigheid is dat Bruiners in aanhouding bly.
Volgens Janse van Rensburg was Bruiners saam met nog 'n verdagte wat nie opgespoor kan word nie en die klaer is ernstige steekwonde toegedien.
Landdros Roelf Konstabel het in sy uitspraak gesê Bruiners staan tereg op 'n Bylae 5 misdryf en kan tot 15 jaar tronkstraf gevonnis word indien hy skuldig bevind word.
Hy het borgtog geweier en die saak vir verhoor tot 3 April uitgestel.
Ten spyte van die feit dat hy wel borgtog van R3 000 in die Justin Booysen-moordsaak toegestaan is, bly hy steeds in aanhouding omdat hy nie borgtog in dié aanrandingsaak toegestaan is nie.
Lees vorige artikels:
- Borgtog vir tweede verdagte
- Booysen-moordsaak uitgestel
- Kuierplek-moordenaar kry 15 jaar tronkstraf
- Een in Booysen-moordsaak kry borgtog
- Honderde by Justin se begrafnis
- Verdagtes in Justin Booysen-Moordsaak wil nie borg hê
- Borgtogaansoek uitgestel
- Vier verdagtes vas na moord
- Vierde verdagte vas na moord
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordverdagtes Môre voor
- Jong man doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'