OUDTSHOORN NUUS - Die liggaam van die 26-jarige Trevino Konstabel is Maandag 11 Mei in Meiringspoort gevind nadat hy vermoedelik Saterdag in vloedwater verdwyn het toe hy saam met ’n vriend deur die rivier Klaarstroom toe gestap het.
“Sy dood is vir ons ’n massiewe skok en ’n groot tragedie,” sê Giel Swiegers, eienaar van die plaas Witrivier, waar Konstabel gewerk het.
Volgens Swiegers het Konstabel se familie al vir sowat 50 jaar ’n verbintenis met die plaas. “Sy ouma-hulle en sy ouers het hier gewerk. Ek en hy het saam grootgeword en saam gespeel. Hy was ons trekkerdrywer en ’n staatmaker. Dit is regtig ’n reuseverlies vir ons almal. Sy pa werk steeds hier,” vertel hy.
Die tragedie volg minder as ’n jaar nadat Konstabel se ma aan kanker oorlede is.
Swiegers sê toe die nuus van Konstabel se verdwyning breek is ’n massiewe soekgeselskap van stapel gestuur en het reddingswerkers van Beaufort-Wes en die Kaap gekom om hom te help soek.
“Sy liggaam het op ’n ongemaklike plek uitgespoel wat die reddingsoperasie verder bemoeilik het.”
Soektog ná hy vermis geraak het
Swiegers sê Konstabel en ’n vriend het Saterdag 9 Mei te voet deur Meiringspoort na Klaarstroom gestap.
“Ons het eers Sondag gehoor hy het dit nie tot daar gemaak nie, waarna ’n soektog begin is. Sy pa het uiteindelik op hom afgekom waar hy uitgespoel het. Dit was ’n baie traumatiese ervaring vir hom om sy eie seun te vind,” sê Swiegers.
Hy beskryf Konstabel as ’n hardwerkende jong man wat ’n groot leemte op die plaas laat.
Polisie bevestig voorval
Volgens adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, dui die voorlopige verslag daarop dat twee mans omstreeks 14:00 Saterdag 9 Mei deur ’n stroom water by Meiringspoort geloop het toe een van hulle in die water verdwyn het.
Die vriend het die voorval by plaaslike boere aangemeld, waarna die boeregemeenskap onmiddellik met ’n soektog begin het. Die voorval is eers Sondag 10 Mei amptelik by die polisie aangemeld, waarna ’n formele soek- en reddingsoperasie van stapel gestuur is.
Die operasie het onder moeilike omstandighede plaasgevind, aangesien sekere gebiede weens vloedskade ontoeganklik was. Bykomende ondersteuning is vanaf Beaufort-Wes ontplooi, en die soekspan het uiteindelik Maandag daarin geslaag om die liggaam op te spoor.
Speurders van Prins Albert ondersoek die voorval. Konstabel laat sy pa en twee susters agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’