OUDTSHOORN NUUS - Die eerste stap om verteenwoordigers op die stuurkomitee van die Grobbelaarsrivier bestuursplan te verkies, is Maandag 21 September geneem met die verkiesing van komiteelede.
Daar is reeds vroeër berig dat die Tuinroete-distriksmunisipaliteit die koördineerder van ’n bestuursplan is wat die hele opvangsgebied en loop van die Grobbelaarsrivier voortaan sal bestuur.
Dit volg op geweldige skade wat met vloede aangerig word wanneer die Grobbelaarsrivier afkom en ook op vorige pogings om die rivier skoon te kry.
Cango Wildlife is aangewys om die privaat sektor se deelname te koördineer. Met ’n vorige vergadering is die breë doelstellings van die bestuursplan verduidelik en verskeie sektore is genader om mense te nomineer om op die stuurkomitee vir die privaat sektor te dien.
Maandagaand het dr. Nina Viljoen van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit wat met bewaring en omgewingsake gemoeid is, die bestuursplan in breë trekke aan mense voorgehou.
Sy het benadruk dat die bestuursplan die totale opvangsgebied, sytakke en loop van die Grobbelaarsrivier vanaf die Swartberge tot by die aansluiting van die Olifantsrivier behels.
Dit sluit ook die Melville- en Raubenheimerdam in.
Douglas Eriksen, uitvoerende beampte van Cango Wildlife en die koördineerder van die komitee wat die privaat sektor verteenwoordig, het nominasies vir bestuurslede vir agt sektore aangevra.
Die sektore wat op die stuurkomitee verteenwoordig word is: landbou, toerisme, sakesektor, infrastruktuur, omgewingsake en bewaring, privaat grondeienaars, informele en landelike gemeenskappe en tegnologie en digitalisering.
Die verkiesing is ook lewendig gestroom na mense wat nie die vergadering kon bywoon nie. Volgens Eriksen sal die komitee na afloop van 14 dae saamgestel en bekendgemaak word.
Die tydsverloop maak voorsiening vir nominasie van kandidate in sektore waar daar Maandag nie nominasies was nie en ook om verkose lede geleentheid te gee om hul deelname te bevestig en insette oor moontlike bykomende sektore te oorweeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’