OUDTSHOORN NUUS - Oudstudente van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) in Oudtshoorn kom van 25 tot 28 September in Upington byeen vir die 28ste Vollies-reünie. ’n Naweek wat bewys is van vriendskap, diens en ’n nalatenskap wat oor dekades heen voortleef.
Volgens Gary Robertson, voorsitter van die reëlingskomitee, is daar reünies waar mense bloot weer bymekaarkom, en dan is daar reünies waar ’n mens vir ’n paar dae weer onthou wie jy was, waar jy vandaan kom en waarom sekere vriendskappe ’n leeftyd lank standhou.
Die Protea Marriott Hotel in Upington sal tydens die langnaweek die ontmoetingsplek vir die oud-Vollies wees.
“Dit word ’n plek waar ou klasmaats mekaar weer herken, soms onmiddellik, en soms eers nadat die bril opgesit en die maag ’n bietjie ingetrek is!”
Volgens hom is die Vollies-reünie egter veel meer as net ’n nostalgiese terugblik.
Die OKSK het oor die jare ’n geslag opvoeders help vorm wat onderwys nie bloot as ’n beroep beskou het nie, maar as ’n roeping tot diens.
“Uit hierdie geledere het onderwysers, skoolhoofde, onderwysbestuurders, gemeenskapsleiers, kerkleiers, sportmense en ander professionele persone gekom wat oor baie jare ’n betekenisvolle bydrae tot gemeenskappe regoor Suid-Afrika gelewer het,” sê Robertson.
“Daarom gaan die Upington Vollie-reünie 2026 nie net oor die verlede nie. Dit gaan ook oor nalatenskap.”
Die geskiedenis van die georganiseerde Vollie-reünies is volgens Robertson op sigself merkwaardig. Die eerste reünie is in 1998 in Oudtshoorn gehou en is deur slegs 14 Vollies bygewoon.
Vanjaar se feestelikhede begin Vrydag 25 September waar hulle aandete sal geniet en die geleentheid deur vader Andries Pretorius geopen sal word.
Sondag 27 September om 09:30 woon hulle ’n kerkdiens by Upington Congregational Church by.
Vir die organiseerders bly die boodskap van die Upington Vollie-reünie eenvoudig: Die doel is nie om in die verlede te bly leef nie, maar om te onthou waarvandaan hulle kom en hoe dit gevorm het wie hulle vandag is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’