OUDTSHOORN NUUS - Die Vriende van die CP Nel-museum het Erfenisdag op ’n besondere wyse gevier met ’n historiese uitstappie deur Oudtshoorn, met die lewe en nalatenskap van ds. T. van der Riet, die eerste predikant van die NG Gemeente Oudtshoorn, as vertrekpunt.
Sowat 20 mense het op 24 September deelgeneem aan die uitstappie, wat by Van der Riet se laaste rusplek, die Kerkstraat-begraafplaas, begin het.
Die besoek aan die begraafplaas het gevolg ná ’n skoonmaakaksie wat die Vriende vroeër in September aangepak het.
Met die hulp van vrywilligers en die munisipaliteit is ’n gedeelte van dié historiese begraafplaas, insluitend die omgewing rondom Van der Riet se graf, skoongemaak.
Die projek het terselfdertyd die aandag gevestig op die belangrikheid van Oudtshoorn se historiese begraafplase as waardevolle deel van die dorp se erfenis. Van die begraafplaas het die groep na die NG Moederkerk beweeg, waarna die historiese NG Kerk-pastorie in Hoogstraat besoek is.
Ilsa van Schalkwyk het by albei plekke meer oor die geskiedenis en betekenis daarvan vertel. Die uitstappie is by die voormalige African Bank-gebou afgesluit, waar Johan Breunissen die groep meer oor die geskiedenis van die gebou vertel het.
Een van die hoogtepunte van die dag was die teenwoordigheid van William van der Riet van Port Elizabeth, ’n agter-agterkleinseun van ds. T. van der Riet. William het spesiaal vir die geleentheid na Oudtshoorn gereis.
Tydens sy besoek het hy ook ’n waardevolle stuk familiegeskiedenis aan die CP Nel-museum geskenk - een van Van der Riet se preke, gedateer 6 April 1852.
Die historiese dokument sal voortaan as deel van die museum se versameling bewaar word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’