DE RUST NUUS - De Rust is die plek om tydens Erfenis-naweek te wees.
Die langverwagte Mal'va-fees begin Donderdag 24 September en duur tot Saterdag 26 September en val saam met die jaarlikse Suid-Afrikaanse Motorfietsfilmfees (SAMFF).
Die Mal'va-komitee wat besig is met 'n langtermynprojek om De Rust in die land se malva-mekka te omskep is reeds 'n aantal maande aan die gang en derduisende nuwe malvas is reeds oral in die dorp aangeplant.
Hierdie naweek kan besoekers die gasvryheid van die Klein-Karoo ervaar met aktiwiteite wat wissel van langtafeletes, poësie, musiek, kuns, wynproe, motor-fietsfilms, poedingkompetisies en nog wat.
Die naweek kombineer die Mal'va-projek met die motorfietsfilmfees wat verlede jaar ook in De Rust aangebied is en die land se voorste vervaardigers van kortfilms oor motorfietse bymekaarbring.
As daar dalk gewonder word wie maak die heerlikste malvapoeding in die streek, sal dié vraag Saterdag beantwoord word as kokke se malvapoedings beoordeel word en die wenner om 15:00 aangekondig word.
Die fees begin reeds op Donderdag om 16:00 met 'n langtafelete by die NG Kerk in Le Rouxstraat. Vrydag om 14:30 is daar slegs 40 sitplekke beskikbaar in die eetsaal van die De Rust Hotel as Hannes Visser, Ben Oosthuizen en Daniel Verster gedigte voorlees en toonsettings daarvan uitvoer. Dieselfde vertoning was drie weke gelede 'n wenresep in Prins Albert.
Motorfietsryers wat nie lus het vir stilsit en luister nie, kan om 14:00 by Werner Alberts vir 'n motorfietsrit aansluit. Die res van Vrydag bied 'n wynproe en 'n erfenisuitstappie aan sowel as 'n uitstalling deur vyf hoofkunstenaars en kunswerke van nog 20 kunstenaars.
Die amptelike opening van die motorfiets-filmfees vind om 18:00 plaas met die vertoning van die ikoniese motorfietsfilm Electra Glide in Blue van 1973.
Saterdag se program sluit weer 'n erfenis-uitstappie in en die vertoning van die motor-fietsfilm, The World's Fastest Indian. Daar is ook weer 'n wynproegeleentheid by die hotel en om 15:00 word die malvapoedingkoning gekroon.
Die kortfilms wat vir die filmfees ingeskryf is, word vanaf 17:00 by die hotel vertoon waarna die prysuitdeling plaasvind. Die fees word afgesluit met 'n braai by die hotel gevolg deur 'n aandopvoering van Wendy Oldlfield en Piet Bezuidenhout.
Vir enige navrae oor die Mal'va-fees kontak Marita Serfontein by 084 701 4566 en vir navrae oor die filmfees kan Werner Alberts by 082 494 7395 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’