DE RUST NUUS - Terwyl Moeder Natuur verlede week oornag die verkeer en ekonomie na De Rust met 'n reusevloed gekelder het, wil inwoners haar nou aanwend om die dorp se ekonomie te red. Nie deur iets reusagtig nie, maar deur 'n inheemse blomplant - die malva.
Freda Schoeman en agt inwoners van De Rust het Maandagmiddag bymekaargekom om die Mal-vir-De Rust, of meer gepas, die Mal'va De Rust-projek aan die gang te kry om mense na De Rust te lok.
"Min mense weet dat die groot-groot-oupagrootjie van al die miljoene malvas wat in Europa groei, hier uit Meiringspoort en die Swartberge kom," het Schoeman Maandag gesê. Die Duitse plantkundige Hendrik Oldenland het in 1689 die eerste malvas uit die Meiringspoort-omgewing na Engeland en Nederland geneem en vandaar is 'n swetterjoel variëteite gekweek.
Die sluiting van Meiringspoort na verlede week se vloed het 'n enorme impak op De Rust met slegs enkele voertuie wat deur die dorp ry. Besigheidseienaars is dit eens dat iets drasties gedoen moet word om verkeer weer deur die dorp te laat vloei, maar dat daar ook oor die langtermyn beplan moet word.
Dit is interessant dat die pad vanaf Willowmore na George en Mosselbaai skaars 20 km langer is met die R341 langs deur De Rust as met die R62 verby Uniondale.
"Ons moet mense aanmoedig om af te draai De Rust toe, dit is 'n pragtige pad en het die voordeel dat hulle dan deur Oudtshoorn kan ry en oor die Robinsonpas Mosselbaai toe," het Niekie Eksteen, 'n besigheidseienaar gesê.
Die Mal'va De Rust-projek behels die aanvanklike aanplant van 10 000 tot 20 000 malvaplantjies in De Rust. "Mense moet spesiaal De Rust toe kom omdat dit die malva-mekka van die land word," het Schoeman gesê.
Oor die volgende twee weke word 'n strategie en bemarkingsplan opgestel en dit word dan op 3 Junie tydens 'n gemeenskapsvergadering by die NG kerksaal aan al die inwoners voorgelê.
Daar word beplan om groot beddings met malvas met die hoofstraat langs aan te lê, mandjies met malvas aan geboue en bome te hang en om inwoners aan te moedig om malvas in hul tuine en op sypaadjies te plant.
Met hierdie inisiatief word beplan om die klem op De Rust as 'n deurgangsdorp te verskuif na De Rust as 'n bestemming. Daar word oorweeg om inwoners te betrek met die vervaardiging van plantmandjies, staanders en ook vir die versorging van die malvas.
Werner Alberts, eienaar van die De Rust Hotel, het gesê dat Coenie de Villiers reeds aangedui het dat hy bereid is om 'n konsert in De Rust te hou.
Nog n vergadering word op 3 Junie beplan.
Intussen vra besigheidseienaars dat die woord versprei moet word dat De Rust oop is vir besigheid al is die poort vir verkeer gesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’