Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die rit van twee mans uit die Oos-Kaap, wat na 'n kuiertjie in George na Oudtshoorn gery het, het Dinsdagaand tragies geëindig toe een in 'n ongeluk omgekom het.
Die bestuurder van 'n wit Polo Vivo is op die ongelukstoneel tussen George en Oudtshoorn dood nadat die motor gerol het en hy uitgeval en onder die motor beland het.
Die ongeluk het omstreeks 19:40 ongeveer 15km voor Oudtshoorn gebeur.
Volgens twee motoriste wat op die ongeluk afgekom het, het die Polo hulle vroeër teen 'n hoë spoed op die pad verbygegaan en verskeie kere in draaie aan die verkeerde kant van die pad gery.
Die eerste motoris wat by die toneel stilgehou het, het nog 'n motor voorgekeer voordat sy na die wrak gegaan het. "Die kar is 'n ruk voor die ongeluk by my verby en ek was so bang hy ry in aankomende motors vas, want hy het draaie gesny en 'n hele paar keer oor die wit streep gegaan. Ek het nie die ongeluk sien gebeur nie, maar toe ek om die draai kom het ek net stof gesien en toe sien ek die kar in die veld," het sy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Sy en die ander motoris het die passasier van die Polo nog in die motor aangetref en hy het gesê die bestuurder is buite iewers.
Volgens hom was hulle van Kareedouw af na Oudtshoorn onderweg om iemand in Toekomsrus op te laai. Hy het gesê hy en die bestuurder het egter eers in George gestop en 'n ruk by mense gekuier voordat hulle Oudtshoorn toe gery het. Volgens hom sou hulle die persoon in Oudtshoorn oplaai en dadelik na Kareedouw terugkeer omdat die bestuurder die volgende oggend glo moes werk.
Volgens die motoriste wat stilgehou het, het die Polo se enjin nog geloop en daar het rook by die enjinkap uitgekom. Dit was eers toe die passasier uitklim en om die motor stap om dit af te skakel, dat die liggaam van die bestuurder ontdek is. Hy was gedeeltelik onder die motor met sy kop tussen die regter agterwiel en die bakwerk vasgepen.
Die motor het ongeveer 15m deur bosse langs die pad gerol voordat dit op die wiele tot stilstand gekom het. Reddingswerkers moes die motor met meganiese kake oplig om die liggaam te bevry waarna die man op die toneel dood verklaar is.
Die passasier het slegs 'n snywond aan sy kop opgedoen wat verbind is deur paramedici wat toevallig ook op die pad was. Hulle motor was ook een van dié wat vroeër deur die Polo verbygesteek is.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat die oorledene die 30-jarige Mervin Trompetter van Kareedouw was. Inligting wat op die toneel bekom is, dat die oorledene moontlik in diens van die SAPD op Jeffreysbaai was, kon nog nie bevestig word nie.
Lede van die departement van gesondheid se patologie-afdeling neem die liggaam weg.
Die passasierskant van die motor is nie erg beskadig nie en die passasier kon by sy deur uitklim.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'